SAL hervat vlugte na Hongkong

Betogers gebruik bagasiewaentjies om die vertreksaal te versper by die internasionale lughawe in Hongkong (13 Augustus 2019) (Foto: AP Photo/Vincent Yu)

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het Woensdag vlugte tussen Johannesburg en Hongkong hervat.

“Ons verwelkom hierdie verwikkeling en is verlig om ons bedrywighede te hervat,” het Tlali Tlali, woordvoerder van die SAL, gesê. “Ons kan nou ons passasiers vervoer en weer die lugdiens aanbied ná die dienste die afgelope twee dae opgeskort is.”

Die SAL is deur owerhede in Hongkong in kennis gestel dat stappe gedoen word om normale bedrywighede by Hongkong- internasionale lughawe te verseker. Bykomende veiligheidsmaatreëls is in plek gestel.

Tlali het gesê die SAL sal alle nodige bystand lewer aan alle passasiers wat hierdeur geraak is. “Ons doen alles in ons vermoë om reisreëlings te tref vir passasiers wat nie die afgelope twee dae kon reis nie.”

Bedrywighede by die Hongkong-lughawe is Dinsdag weer ontwrig ná honderde vlugte skielik vir die tweede agtereenvolgende dag gekanselleer moes word weens betogings teen die regering. Dit was die vyfde agtereenvolgende dag van betogings by die lughawe en betogers wil internasionaal aandag trek vir hul protes teen die regering. Honderde betogers het gedreunsing “Veg vir vryheid! Staan op vir Hongkong!” en die vertreksaal versper. Bagasiewaentjies is gebruik om reisigers te verhoed om verby die betoging te beweeg.

Betogings het aanvanklik op 9 Junie begin teen ʼn wetsontwerp wat uitlewering aan China sou toelaat. Die wetsontwerp is intussen opgeskort. Hongkong het in 1997 beheer aan die Volksrepubliek China teruggegee, maar het tot 2047 ʼn afsonderlike regstelsel onder die “een land, twee stelsels”-ooreenkoms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

“What Went Wong” at Hong Kong and at the SAL, is the Big question!!! Say No More!!!

Stan ·

Dit is goed dat hulle veg teen kommunisme want as hulle eers begin om toegewings te maak dan is hulle vryheid neusie verby!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.