SA’ner in Tsjad bied veilige hawe aan olifante

Leon Lamprecht in Tsjad (Foto: Lindi Masinga/ANA)

Leon Lamprecht, ʼn oud-Suid-Afrikaner wat homself in Tsjad gevestig het, bied ʼn veilige hawe vir olifante. Hy het Suid-Afrika in 1992 verlaat en is nou parkebestuurder van die Zakouma-wildtuin in Tsjad.

Volgens hom het Zakouma binne agt jaar ongeveer 4 000 olifante verloor, maar sedert African Parks die bestuur van die park oorgeneem het, het hulle slegs 22 olifante verloor, en slegs ses in die afgelope sewe jaar. “Zakouma is ʼn unieke plek en ʼn plek van oorvloed en bied die enigste water in die droë seisoen,” het hy gesê.

Lamprecht draai daagliks sy kraan oop en vyf olifantbulle kom drink dan koue water uit sy tuinslang wanneer hy dit na hul slurpe uitsteek.

“Ek was eers die parkebestuurder by Odzala Nasionale Park in die Kongo. Ek het dit vir drie jaar lank gedoen en toe was ek vir drie jaar bedryfsbestuurder by African Parks wat Zakouma, Odzala Garamba en Chinko ondersteun.”

Lamprecht het verlief geraak op die bos terwyl hy in die Krugerwildtuin grootgeword het. Sy pas was ʼn afdelingshoof en natuurbewaarder. “Ek werk my lewe lank al met diere.”

Hy sê die situasie in Zakouma is uniek, omdat die gemeenskap hulle 100% ondersteun. “Sonder die gemeenskap se hulp sal natuurbewaring nooit suksesvol wees nie. Die vreemde ding is, hierdie olifante het byna uitgesterf, maar hulle vertrou mens steeds, ondanks die trauma wat hulle deurgegaan het.”

Volgens Lamprecht is die verhouding tussen Zakouma en die gemeenskap so suksesvol omdat die gemeenskap die olifante as ʼn nasionale bate beskou. “Niemand hier stroop olifante nie,” het hy bygevoeg. “Die stropers kom van buite. Hulle kom van Soedan en hulle reis lig en vinnig, so hulle perde word moeg en siek en dan maak hulle soms die perde dood. Hulle reis ook met baie min kos, so hulle gaan na die dorpe en vat hulpbronne. Hulle is dus net so ʼn groot probleem vir die gemeenskap soos vir die park.”

Lamprecht verduidelik die park het ʼn radionetwerk met 16 radio’s in strategiese dorpies wat as vroegtydige waarskuwing dien. “Wanneer die inwoners gewapende mans op perde sien, dan roep hulle ons op die radio en ons stuur dadelik ʼn vliegtuig om na die stropers te soek en wildbewaarders gaan doen ʼn inhegtenisneming.”

Hy sê beskerming vir die gemeenskap dra by om die park te help om stropery te bekamp. “Deur die sekuriteit wat ons vir die inwoners verskaf, ondersteun hulle ons 100% in wat ons doen.”

Lamprecht meen die groot verskil tussen Zakouma en die Krugerwildtuin is dat renosterhoring “waarskynlik 20 keer meer waardevol en relevant as olifanttande is” en daarom is dit baie moeilik om ondersteuning van die gemeenskappe te kry deur net sekuriteit vir hulle aan te bied. “En hulle het ʼn baie goeie infrastruktuur en ondersteuningstelsel, so hulle het nie bystand van die park nodig nie, want die regering verskaf dit.”

Lamprecht sê hy werk tans op ʼn driejaarkontrak, met die moontlikheid om langer aan te bly – en hy oorweeg dit baie sterk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

marianna ·

n Mooi storie op die Sondag oggend. Hou so aan oom Leon!

Stephen Namibia ·

Also worked in Chad
Take care that you do not lose your head.

jean ·

Ag jitte!,,,,is dit nie wonderlike nuus nie?…Wat ‘n voorreg om tussen sulke reuse te staan…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.