SA’ner sterf in Kenia-terreuraanval

Luke Potter. Foto: www.gatsby.org.uk

Een van die mense wat dood is nadat terroriste Dinsdag op ʼn kantoor- en hotelkompleks in die Keniaanse hoofstad, Nairobi, toegeslaan het, was ʼn man wat beide Britse en Suid-Afrikaanse burgerskap gehad het.

eNCA berig die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) het bevestig dat die oorledene ook Suid-Afrikaanse burgerskap gehad het. Volgens die departement word die man se dood egter deur Brittanje hanteer aangesien hy Nairobi met sy Britse paspoort binnegegaan het.

Die man is intussen as Luke Potter geïdentifiseer. Potter was die Afrika‑programdirekteur van die Gatsby Charitable Foundation, ʼn organisasie wat nie-regeringsorganisasies finansier en veral op oprigting van plaaslike infrastruktuur en landbounavorsing vir liefdadigheidsdoeleindes fokus.

Die organisasie het Potter se dood in ʼn verklaring bevestig. “Luke het die afgelope tien jaar van sy loopbaan daaraan gewy om van die armste en weerloosste mense in die wêreld te help. Hy het vir drie en ʼn half jaar by ons gewerk en die meeste van sy projekte in Oos-Afrika uitgevoer,” lui die verklaring.

Die organisasie het Potter geloof vir sy vasberadenheid en onwrikbare werksetiek met elke projek wat hy aangepak het. “Hy was koelkop en kon humor in elke situasie inbring. Hy was uiters toegewyd aan sy werk, sy spanne, aan Gatsby en aan ontwikkeling in Afrika. Hy was ons kollega en ons vriend.”

Potter word oorleef deur ʼn lewensmaat en ʼn dogter.

Intussen is die terreuraanval deur Al-Sjabaab‑ekstremiste beëindig toe vyf militante doodgeskiet is. Dit bring die dodetal van die aanval op 21 te staan.

Foto: AP Photo/Ben Curtis

Die terreuraanval het Dinsdag begin met talle motorbomontploffings buite ʼn bank en ʼn selfmoordbomaanval by die ingangsportaal van die hotel waarna minstens vier gewapende mans toegeslaan het. Mense het Dinsdag vreesbevange uit die DusitD2-kompleks in Nairobi gevlug terwyl ontploffings en geweerskote deur die buurt weerklink het. Die geweerskote kon deur die nag gehoor word soos die aanval voortgeduur het.

Joseph Boinnet, inspekteur-generaal van die Keniaanse polisie, sê ʼn polisiebeampte is ook in die skietery gedood. Minstens 28 mense is gewond en na ʼn hospitaal gebring. Twee mense wat daarvan beskuldig word dat hulle die aanval gefasiliteer het, is in hegtenis geneem.

Pres. Uhuru Kenyatta het in ʼn verklaring wat regstreeks op televisie uitgesaai is, gesê die operasie deur veiligheidsmagte om die terreuraanval te beëindig is verby en al die ekstremiste is doodgemaak. “Ons sal elke persoon opspoor wat betrokke was by die finansiering, beplanning en uitvoering van hierdie gruwelike aanval,” het Kenyatta onderneem.

Die president se aankondiging dat die aanval verby is, het gekom 20 ure nadat die eerste berigte oor die aanval deurgekom het.

Altesaam 16 Keniane het in die aanval gesterf, asook een Amerikaner. Die Amerikaanse oorledene is geïdentifiseer as Jason Spindler, ʼn 41-jarige sakeman wat destyds die 9/11-terreuraanval oorleef het. Spindler het in 2001 vir ʼn finansiële firma in die World Trade Centre gewerk, maar was dié oggend laat vir werk. Sy pa het vertel hy het die oggend net uit die tonnel van die ondergrondse treinstasie langs sy werk gekom toe die eerste toring geval het. Hy het deur die puin en stof gehardloop om mense te help terwyl een van die wêreld se opspraakwekkendste terreuraanvalle ooit om hom afgespeel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ander Annie ·

Dit is baie hartseer. Terreur aanvalle saai soveel verwoesting en hartseer. Ek dink nou aan die Amerikaanse burger wat 9/11 oorleef het, maar wat nou oorlede is in die terreur aanval. Innige simpatie aan al die bedroefde families. Sterkte aan die beseerdes. Hoop julle herstel spoedig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.