SA’ner sterf toe lugballon val

Foto: Christopher Michel Bron: news.com.au

ʼn Suid-Afrikaner is dood en 12 ander mense beseer toe ʼn warmlugballon Vrydag naby Luxor in Egipte geval het.

AFP berig ʼn beampte van die plaaslike departement van gesondheid het bevestig dat die oorledene ʼn Suid-Afrikaanse toeris is.

Volgens Egiptiese owerhede het die ballon ʼn besigtigingstoer met buitelandse toeriste onderneem toe dit naby Luxor in die suidelike deel van die land geval het. Beamptes het gesê sterk winde het veroorsaak dat die ballon van sy roete bo die stad se Farao tempels en grafte af gedwing is voordat dit geval het.

Meer besonderhede oor die nasionaliteite van die beseerdes was nie onmiddellik beskikbaar nie.

Dit is nie die eerste keer dat mense in ʼn warmlugballon-ongeluk in Luxor sterf nie. In 2013 het 19 buitelandse toeriste gesterf toe hul lugballon aan die brand geslaan het.

In 2016 het Egipte tydelik lugballonvlugte opgeskort nadat 22 Chinese toeriste geringe beserings opgedoen het toe die lugballon waarin hulle was geval het. Sedertdien word lugballonvlugte deur kameras gemonitor en is lugballonne verbied om hoër as 2 000 m te vlieg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.