SA’ner vertel van Hajj-stormloop; dodetal styg skerp

Pelgrims rondom die Kaaba in die Grand Mosque, Mekka  Foto: AP/Mosa'ab Elshamy

Pelgrims rondom die Kaaba in die Grand Mosque, Mekka Foto: AP/Mosa’ab Elshamy

ʼn Suid-Afrikaner het verduidelik hoe daar vir elke Hajj-pelgrim wat hy tydens Donderdag se stormloop in Mekka wou help, ʼn dosyn ander geval en voor hom gesterf het.

“Mense het gestruikel, geval, probeer om op te staan,” het Zaid Bayat (43), ʼn sakeman van Pietermaritzburg, oor die telefoon uit Mina gesê. “Die mense was ontwater en hulle was gedisoriënteerd. Hulle het voor ons oë gesterf.

“Hulle het versmoor. Ons het probeer om hulle by te bring, maar vir elke persoon wat jy wou help, was daar 13 of 14 wat net geval het. Dit was baie traumaties.”

Bayat het gesê hy glo die moeilikheid het begin toe ʼn groep van ʼn paar duisend mense omgedraai het en in die bloedige hitte teen die vloei van aanbidders begin beweeg het.

Maroela Media het vroeër berig honderde pelgrims het gesterf tydens een van die laaste rituele van die Hajj waar “die duiwel gestenig word”. Die jongste getal is 717 pelgrims wat tydens die stormloop gesterf het met 863 persone wat beseer is. Volgens ʼn plaaslike nuuskanaal, Al Arabiya, het die regering in Saoedi-Arabië gesê die dodetal kan nog styg.

Reddingsbeamptes op die toneel waar minstens 717 persone tydens 'n stormloop in Mekka gesterf het (24 September 2015) Foto: Direktoraat van Saoedi-Arabië se burgerlike verdedigingsagentskap, Twitter via AP

Reddingsbeamptes op die toneel waar minstens 717 persone tydens ‘n stormloop in Mekka gesterf het (24 September 2015) Foto: Direktoraat van Saoedi-Arabië se burgerlike verdedigingsagentskap, Twitter via AP

“ʼn Groep mense, dalk ʼn paar duisend, het terugbeweeg nadat hulle die ritueel uitgevoer het,” het Bayat verduidelik. “Ek dink dis hoe dit begin het. Dit was baie moeilik, want daar was persone in rolstoele in daardie groep en in die groep wat vorentoe beweeg het, en mense het paniekerig begin raak.”

Hy het gesê van die pelgrims het uit noodsaak oor die grensdraad en op die dakke van geboue en tente geklim wat langs die pad opgerig is. “Hulle wou uitkom, hulle wou verby die polisieversperrings kom, hulle wou net wegkom.”

Bayat het ʼn groep van 70 Suid-Afrikaners gelei, waarvan een ʼn diabeet is en flou geword het, en het hulle na ʼn Marokkaanse ruskamp geneem om te rus en water te drink toe hy besef iets is buite aan die gang. “Twee minute later sou ons reg in die middel daarvan gewees het,” het hy verduidelik. “Ongeveer tien van ons het uitgegaan en die mense probeer help.”

Bayat het gesê sy groep was die laaste van sowat 2 000 Suid-Afrikaners wat aan die jaarlikse pelgrimstog deelgeneem het en hy glo die ander was veilig elders toe die noodlottige stormloop plaasgevind het.

Moelana Ihsaan Hendricks, president van die Moslem Juridiese Raad, het gesê hy was in verbinding met Suid-Afrikaners in Mina en het nog nie gehoor van enige Suid-Afrikaners wat ernstig beseer of dood is in die tragedie nie. “Volgens ons rekords het geen Suid-Afrikaner in die stormloop omgekom nie,” het Hendricks gesê en bygevoeg die Moslem-gemeenskap is diep getref deur die dodelikste voorval in 25 jaar. “Terwyl ons Eid vier, is ons harte by die pelgrims. Nie net die Suid-Afrikaners nie, maar alle pelgrims. Die stormloop is ʼn groot skok vir ons gemeenskap.”

Clayson Monyela, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge, het laat Donderdag gesê sy departement is ook nie bewus van enige Suid-Afrikaners wat in die stormloop gesterf het nie.

Mohamed Hosain Khan, verdedigingsattaché by die Suid-Afrikaanse ambassade in Riyadh, het gesê die sending monitor die situasie, maar dit wil voorkom of alle Suid-Afrikaners veilig is. “In hierdie stadium lyk dit nie of enige Suid-Afrikaners beseer of omgekom het in die stormloop nie. Ons konsul-generaal is in verbinding met reisagentskappe, maar tot dusver is daar nog nie enigiets aangemeld nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Willie Brits ·

Hoe laat mense hulleself toe om in sulke omstandighede te beland? Fanatisie? FOMO?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.