Sanger se oorsaak van dood bekend

Dolores O’Riordan. Foto: AP Photo/Bruno Bebert, File

Dolores O’Riordan (46), die hoofsangeres van die rockgroep The Cranberries, het verdrink.

Die lykskouing het bevind O’Riordan het verdrink nadat sy ʼn groot hoeveelheid alkohol ingeneem het.

O’Riordan se liggaam is op 15 Januarie in die bad van haar kamer in die Park Lane Hotel in Londen deur ʼn skoonmaker gevind. Haar mond en neus was onder die water toe sy gevind is en sy het ʼn pajamabroek en langmoufrokkie aangehad.

Die toksikologieverslag het gewys O’Riordan was vier keer oor die wettige bloedalkoholperk vir bestuur. Daar is ook geen bewyse gevind dat O’Riordan enige ander medikasie as dit wat vir haar voorgeskryf was, geneem het nie.

Daar is nie ʼn selfmoordnota in die hotelkamer gevind nie, maar wel talle leë bottels drank en ʼn leë pakkie sigarette.

Dié Ierse musikant, oorspronklik van Limerick, het The Cranberries in die 90’s tot internasionale sukses gelei met treffers soos “Linger” en “Zombie”.

O’Riordan was in Londen vir ʼn kort opnamesessie ten tyde van haar dood. Sy word oorleef deur haar eksman, Don Burton, en haar drie kinders, Taylor Baxter, Molly Leigh en Dakota Rain.

Die groep het in 2003 opgebreek en weer in 2009 herenig. Die groep het verlede jaar ʼn akoestiese album met die titel Something Else vrygestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Dirk JK ·

Dit is hartseer. ” No Need to Argue” van 1994 is een van my gunsteling albums ooit. My innige simpatie met haar familie.

Snuffels ·

4 keer oor die limiet is nie werklik so baie nie! Gaan dalk sukkel om te bestuur maar in n bad te verdrink???

Salome Jonker ·

Is dit nie eienaardig dat sy met klere aan, in die bad gevind is nie. ? Groot verlies, haar musiek was baie diep.

Lindtjies ·

Dit is baie hartseer dat so baie van die bekende sangers dood is aan ‘n oordosis. Vat maar vir Michael Jackson, Prince, George Michael, Whitney Houston en Amy Whinehouse. Die Cranberries se liedjie “Dreams” was vir my die beste nog.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.