Sangeres maak skoonskip by MTV EMA-toekennings

Taylor Swift het vier toekennings ingeoes. (Foto: MTV EMA/Instagram)

Die Amerikaanse popsanger Taylor Swift het Sondagaand skoonskip gemaak by die MTV European Music Awards, wat vanjaar in Düsseldorf, Duitsland, plaasgevind het.

Die 32-jarige sanger het vier van die aand se mees gesogte toekennings ingeoes, waaronder beste musiekvideo, beste kunstenaar, beste pop- én beste langformaat-musiek-video vir haar 10-minute-weergawe van haar treffersnit “All Too Well”.

Swift het self in die regisseurstoel vir dié musiekvideo – wat tot op hede 78 miljoen trefslae op YouTube het – gesit en die proses as ʼn “natuurlike uitbreiding” van haar liedjies se storievertelling beskryf.

Liedjies vanaf haar jongste album, Midnights, oorheers tans trefferlyste oor die wêreld heen en sy het gevolglik musiekgeskiedenis gemaak en die eerste kunstenaar nóg geword wat gelyktydig die eerste tien plekke op die Billboard Hot 100-musiektrefferlys beklee.

David Hasselhoff het ook ʼn spesiale verskyning gemaak en die toekenning vir beste kunstenaar aan Swift oorhandig. (Foto: MTV EMAs/Twitter)

Die Amerikaanse akteur en sanger David Hasselhoff het ook ʼn spesiale verskyning gemaak en die toekenning vir beste kunstenaar aan Swift oorhandig. Sy het weer haar aanhangers geprys vir hul volgehoue ​​ondersteuning en gesê dat hulle die rede vir haar sukses is.

Beste rock-kunstenaar het na die Britse groep Muse gegaan en hul jongste treffer, “Will of the People”, het ook beste rock-lied gewen.

“Ons wil graag hierdie hele album opdra aan die mense van Oekraïne en die vroue in Iran wat veg vir hul vryheid terwyl ons vanaand feesvier,” het dié groep se hoofsanger, Matt Bellamy, in sy bedankingstoespraak gesê.

Beste rock-kunstenaar het na die Britse groep Muse gegaan. (Foto: Sascha Schuermann/AFP)

Ondanks die feit dat hy vir sewe toekennings benoem is, het die voormalige One Direction-sanger Harry Styles – wat tans deur die VSA toer – net een toekenning vir beste regstreekse optrede gewen.

Die kletsrymer Nicki Minaj het ook in haar afwesigheid die toekenning vir beste liedjie en beste hip-hop-liedjie gewen.

Dit was ook ʼn goeie aand vir K-pop, met die Suid-Koreaanse sanggroep Seventeen wat die toekenning vir beste nuwe kunstenaars gewen het en die vroue-K-pop-sanggroep Blackpink wat ʼn nuwe kategorie, naamlik die beste meta-wêreld-vertoning (metaverse), gewen het.

Die Suid-Afrikaanse kletsrymer Nsikayesizwe Ngcobo op die rooitapyt.c(Foto: Sascha Schuermann/AFP)

Maroela Media het vroeër berig dat die meta-wêreld ʼn virtuele 3D-omgewing is waar gebruikers kan “leef” en met ander interaksie kan hê deur digitale avatars. Dit kombineer verskeie elemente van tegnologie soos aangevulde werklikheid, blokketting en virtuele werklikheid.

Die Suid-Afrikaanse kletsrymer Nsikayesizwe Ngcobo, beter bekend as Nasty C, het ook geskiedenis gemaak en is die eerste plaaslike hip-hop-kunstenaar wat genooi is om by die MTV EMA-geleentheid op te tree.

Ngcobo het oor dié prestasie op sy Instagram-blad geskryf “God is die grootste”.

Hier is ʼn volledige lys van die wenners.

Bronne: AFP, The Hollywood Reporter, MTV News.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.