Sangeres Natalie Cole oorlede

Natalie Cole (Foto: AP Photo/Keystone, Martial Trezzini)

Natalie Cole (Foto: AP Photo/Keystone, Martial Trezzini)

Die Grammy-bekroonde sangeres Natalie Cole, dogter van die jazzlegende, Nat King Cole, is in die ouderdom van 65 oorlede.

Cole se agent het aan die Los Angeles Times gesê sy het in ʼn hospitaal in Los Angeles gesterf aan hartversaking.

Sy het in 1991 haar grootste sukses behaal met die album, “Unforgettable… With Love”, wat ʼn duet met die stem van haar pa, wat in 1965 oorlede is, ingesluit het. Meer as 7 miljoen van dié albums is in Amerika verkoop. Die duet met haar wyle pa het drie Grammy-toekennings ontvang. (Video van dié lied volg onderaan die berig)

Natalie Cole het deur haar loopbaan altesaam nege Grammy-toekennings ontvang.

Natalie Cole (Foto: AP Photo/Matt Sayles)

Natalie Cole (Foto: AP Photo/Matt Sayles)

“Sy het ʼn goeie stryd gestry, en gesterf soos sy geleef het, met waardigheid, krag en vol moed,” het haar familie in ʼn verklaring gesê.

Sy het haar eerste treffer in die 1970’s gehad, “This Will Be”, maar het ʼn groot deel van haar lewe met dwelmverslawing gesukkel. In haar outobiografie in 2000 het sy melding gemaak van kokaïen, heroïen en LSD en bekend gemaak dat sy een keer as ʼn prostituut in Harlem, New York, gewerk het. Sy is in 2008 gediagnoseer met hepatitis C, en sy het dit toegeskryf as “ʼn nalatenskap van my dwelmmisbruik”. Sy het een jaar later ʼn nier ontvang toe ʼn aanhanger gesterf het. “Ek het nie besef hoe naby ek aan die dood gekom het nie,” het Cole aan die Los Angeles Times in 2008 gesê.

Sy het in Oktober aangekondig dat sy opvoerings vir November en Desember, insluitend ʼn Oujaarsaand-optrede in Los Angeles, moet kanselleer weens siekte.

Sy was drie keer getroud. Sy laat haar seun, musikant Robert Adam “Robby” Yancy, agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.