Sanksies teen Mianmar ingestel ná staatsgreep

Polisiebeamptes staan Donderdag wag gedurende betogings in Nay Pyi Taw, Mianmar. (Foto: STR / AFP)

Die Amerikaanse president, Joe Biden, het sanksies teen die militêre leiers goedgekeur wat vroeër vandeesmaand ’n staatsgreep in Mianmar uitgevoer het.

Die sanksies gaan nie net die militêre leiers raak nie, maar ook hul families asook enige sakeondernemings waarmee hulle bande het.

Brittanje het intussen gesê hy oorweeg dit nou ook om sanksies teen dié generaals in te stel.

Maroela Media het vroeër berig die demokraties verkose leier Aung San Suu Kyi en Win Myint, president van Mianmar, is gedurende die staatsgreep in aanhouding geneem. Een van Suu Kyi se assistente en nog ander is intussen ook in hegtenis geneem.

Biden het versoek dat die weermag van Mianmar afstand doen van die mag wat hy in die staatsgreep oorgeneem het en om die gevangenes vry te laat.

Totdat dit gebeur, sal die Amerikaanse president die weermag van Mianmar verhinder om toegang tot $1 miljard van Mianmar se fondse in die Verenigde State te verkry.

Joe Biden. (Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

“Ons gaan bates in Amerika vries wat die Mianmar-regering bevoordeel, terwyl ons ons ondersteuning vir gesondheidsorg, burgerlike gemeenskapsgroepe en op ander terreine behou wat direk tot voordeel van die inwoners van Mianmar is,” het Biden gesê.

Tienduisende mense het die afgelope tien dae die strate van Mianmar ingevaar in opstand teen die staatsgreep. ’n Vrou is tydens die betogings in die kop geskiet en veg sedertdien om haar lewe in ’n hospitaal in die hoofstad Nay Pyi Taw.

Mya Thwe Thwe Khaing is Dinsdag gewond toe polisiebeamptes betogers met waterkanonne, rubberkoeëls en skerp rondtes ammunisie probeer verjaag het.

Biden het ook ’n beroep op die weermag gedoen om hulle te weerhou van geweld teen betogers wat hul demokratiese reg uitoefen om beswaar teen die staatsgreep aan te teken.

Dominic Raab, Brittanje se minister van buitelandse sake, het intussen getwiet dat Brittanje ook sanksies oorweeg.

Die VN se Menseregteraad hou Vrydag ’n spesiale sitting om die voortslepende politieke krisis in Mianmar te bespreek na ’n amptelike versoek deur Brittanje en die Europese Unie.

Brittanje het verlede jaar sanksies aangekondig wat gerig is op twee Mianmar-generaals oor die behandeling van die Rohingya, ’n vervolgde Moslem-minderheid.

Bronne: BBC, ABC News, AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Francois Le Cochon ·

Daar is nou ‘n betekenisvolle ooreenkoms met die politieke toestand in Bangladesh. Iets om dop te hou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.