Satellietbeelde kan olifantbewaring aanhelp

Argieffoto (Foto: ajoheyho/Pixabay)

Natuurbewaarders het begin om satellietbeelde te gebruik om olifante vanuit die ruimte te tel. Britse kenners glo dié tegniek kan bedreigde olifantbevolkings in Afrika beskerm.

Navorsers verbonde aan die Universiteit van Oxford en Universiteit van Bath het gesê die gebruik van algoritmes, masjienleer en satelliettegnologie kan huidige tegnieke vervang wat gebruik word om olifante te tel – ʼn kritieke aspek van bewaring.

“Die bevolking van Afrika-olifante het die afgelope eeu skerp gedaal weens stropery, ontbossing en vergeldingsdood weens oeste wat verwoes word,” het Oxford in ʼn verklaring gesê. “Om hulle te bewaar is dit nodig dat ons weet waar hulle hul bevind en hoeveel olifante daar is: akkurate monitering is noodsaaklik.”

Die gewildste tegniek wat tans gebruik word om olifantbevolkings dop te hou, is tellings uit bemande vliegtuie. Akademici meen dié opmetingsbeamptes kan moeg word en tellings word verhinder deur swak sigbaarheid. “Satellietmonitering is ʼn diskrete tegniek en vereis nie enige grondteenwoordigheid nie. Die spesie word dus nie versteur nie en daar is nie enige kommer vir menslike veiligheid tydens dataversameling nie,” het Oxford bygevoeg. “ʼn Proses wat in die verlede maande sou duur, kan nou in ʼn paar uur afgehandel word.”

Die wetenskaplikes het die tegniek aanvanklik by Suid-Afrika se Addo-olifantpark ontwikkel. Die beelde, van ʼn satelliet wat sowat 600 km bo die aarde wentel, kon binne ʼn paar minute meer as 5 000 km² afneem met ʼn enkele verbygang. Wetenskaplikes het die algoritme aangepas om slegs volwasse olifante te herken uit ʼn datastel van 1 000 olifante in die park en het bevind dat die stelsel ook kalfies kan identifiseer.

Hulle hoop dat dié bewaringstegnologie baie dringend verwelkom sal word om die wêreld se biodiversiteit te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Tanniepetoors ·

Wonderlike nuus. Onlangs ‘n dokumentêr gekyk oor olifantstropery en was weereens geskok oor die absolute wreedheid van.die stropers. Dikwels word ivoor verwyder van olifante wat nog lewe. Afgryslik wreed. Ek wens amper stropers kan ook met satelliete opgespoor en sommer uitgewis word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.