Satellietfoto’s het onthul dat daar baie meer keiserpikkewynkolonies in Antarktika is as wat vroeër gedink is.
Wetenskaplikes van die Britse Antarktiese Opname (BAS) het 11 nuwe kolonies opgespoor toe hulle foto’s van die Sentinel-2-satelliet van die kuslyn van Antarktika bestudeer het, het die Europese Ruimteagentskap (ESA) Woensdag gesê.
Die bevindings het onthul dat daar byna 20% meer pikkewynkolonies is as wat vroeër geglo is. Drie van die kolonies is egter glo vantevore geïdentifiseer, maar dit is nie bevestig nie.
Alhoewel die diere te klein is om op die foto’s te sien, kon die kolonies uitgeken word deur die groot vlekke op die ys weens die pikkewynmis.
“Dit is ʼn opwindende ontdekking,” sê Peter Fretwell, hoof-outeur en geograaf by BAS. “Alhoewel dit goeie nuus is, is die kolonies klein en dit beteken slegs ʼn toename in die bevolking van tussen 5% en 10% tot net meer as ʼn halfmiljoen pikkewyne of tussen 265 500 en 278 500 broeipare.”
Wetenskaplikes beraam daar is sowat 61 keiserpikkewynkolonies op die kontinent.
Volgens ESA is dit baie moeilik om pikkewyne te bestudeer sonder satellietfoto’s, aangesien die voëls, wat nie kan vlieg nie, in verafgeleë en onbegaanbare gebiede woon waar die temperatuur tot -50°C kan daal.
Die bevindings is in die Remote Sensing in Ecology and Conservation-joernaal gepubliseer.
- Foto: Europese Ruimteagentskap (ESA)
- Foto: Europese Ruimteagentskap (ESA)
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
4 Kommentare
https://www.bas.ac.uk
Dink dit moet BAS, en nie BSA wees
Ek bly eerder daar saam met hulle as om saam met sekere mense hier te bly daar sal jy rus vir jou siel he.
Verblydende nuus.