‘Saving Private Ryan’-akteur oorlede

Tom Sizemore (Foto: Jayel Aheram van Seattle, WA via Wikimedia Commons)

Tom Sizemore, ʼn talentvolle akteur wat gereeld die rol van die tawwe kêrel vertolk het, maar self gesukkel het om aan die regte kant van die wet te bly, is in die ouderdom van 61 oorlede.

Sy bestuurder Charles Lago het gesê hy het in Februarie ʼn brein-aneurisme gehad en lewensondersteuning is Vrydag afgeskakel. Dokters het bepaal dat hulle nie enigiets verder vir hom kan doen nie.

“Dit is met groot hartseer dat ek moet aankondig dat akteur Thomas Edward Sizemore vandag vreedsaam in sy slaap oorlede is by die St Joseph’s-hospitaal Burbank,” lui ʼn verklaring. “Sy broer Paul en tweelingseuns Jayden en Jagger (17) was aan sy sy.”

Die akteur het oor die dekades heen met van Hollywood se grootste sterre gewerk. Agter die skerms het hy egter met verslawing gesukkel en gereeld agter tralies beland.

Hy is in 1961 in Detroit gebore en het in die 1980’s as ʼn akteur in New York gewerk. Hy het bekendheid verwerf met ʼn rol in Oliver Stone se 1989-fliek Born on the Fourth of July.

Deur die 1990’s het hy in flieks soos True Romance (geskryf deur Quentin Tarantino) en Stone se gewelddadige treffer Natural Born Killers verskyn.

Dit was egter vir sy rol in Steven Spielberg se 1998 Tweede Wêreldoorlogfliek Saving Private Ryan waarvoor hy geloof is. Hy was tweede in bevel vir Tom Hanks toe ʼn klein groep soldate gestuur is om ʼn troep huis toe te bring wie se drie broers reeds gesterf het.

Die fliek het ʼn Oscar-benoeming as Beste Fliek ontvang en die sterre, insluitend Matt Damon, is genomineer vir ʼn Uitnemende Rolverdeling deur die Screen Actors Guild.

ʼn Paar jaar later het hy saam met Ewan McGregor en Tom Hardy in Ridley Scott se Black Hawk Down verskyn.

Agter die skerms het Sizemore se lewe egter uitgerafel. Hy het sy dwelmmisbruik, insluitend die gebruik van metamfetamien, heroïen en kokaïen, beskuldig vir sy donker episodes.

In 2003 is hy skuldig bevind op aanklag dat hy sy meisie aangeval het. Hy het agt maande tronkstraf uitgedien.

Dwelmbesit het hom ook in die moeilikheid laat beland en hy is minstens een keer tronkstraf opgelê.

In 2017 is hy weer skuldig bevind op aanklagte wat met huishoudelike geweld verband hou.

Ondanks sy persoonlike probleme het hy bly werk en in TV-programme soos Hawaii Five-O en Law & Order: Special Victims Unit verskyn.

Hy het op 18 Februarie by sy huis in Los Angeles inmekaargestort ná ʼn beroerte en gevolglike aneurisme. Hy was sedertdien in die hoësorgeenheid.

Lago het gesê hy sal sy “wonderlike vriend” mis.

“Tom was een van die mees opregte, goedhartige en vrygewige mense wat ek geken het. Sy durf en deursettingsvermoë deur moeilike tye was vir my altyd ʼn inspirasie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.