Michael Schumacher se hospitaaldokumente rakende sy koma ná ʼn ski-ongeluk is glo gesteel en word nou te koop aangebied.
“Gesteelde dokumente en inligting word nou al ʼn paar dae lank te koop aangebied,” het Sabine Kehm, die voormalige F1-kampioen se woordvoerder, Maandag in ʼn verklaring gesê. “Die verkoper voer aan dit is Michael se hospitaaldokumente.”
Kehm sê egter hulle kan nie bepaal of die dokumente outentiek is nie. “Die dokumente is egter definitief gesteel. Die owerhede is betrek,” het sy gesê.
Sy het die publiek gewaarsku teen die aankoop of publisering van die inligting. “Die inhoud van enige mediese dokument is privaat en vertroulik en mag nie aan die publiek beskikbaar gemaak word nie.”
Kehm het gedreig hulle sal teen “enige publikasie van die inhoud of verwysing na die mediese dokument” dagvaar.
Schumacher (45) is vroeër vandeesmaand uit ʼn Franse hospitaal na ʼn fasiliteit in Lausanne, Switserland oorgeplaas nadat hy uit sy koma ontwaak het. Hy word al sedert 29 Desember by die hospitaal in Grenoble behandel nadat hy tydens ʼn ski-ongeluk geval en sy kop teen ʼn klip gestamp het.
Hy het reeds twee operasies ondergaan om lewensgevaarlike bloedklonte te verwyder ná die fratsongeluk. Dit is nog steeds nie duidelik wat Schumacher se toekoms sal wees nie. -Sapa-AFP
Kan ‘n mens so laag daal ?
Kan mens wraggies SO hardop wees vir geld?? Hoe siek is dit?? Enigeen wat eers daaraan DINK om dit te koop is net so siek. Hoop hul vang die imbesiel.