Schumi toon tekens dat hy wakker word

Michael Schumacher Foto: www.dw.de

Michael Schumacher Foto: www.dw.de

Die voormalige F1-wêreldkampioen Michael Schumacher toon glo tekens dat hy besig is om wakker te word uit ʼn kunsmatige koma.

“Michael maak vordering. Hy toon tekens van bewustheid en dat hy wakker word,” het Sabine Kehm, Schumacher se bestuurder, Vrydag gesê.

Schumacher (45) is op 29 Desember ernstig beseer tydens ʼn ski-ongeluk by die Meribel-oord in Frankryk. Hy is na die hospitaal in Grenoble geneem vir ʼn noodoperasie en word sedertdien medies onder verdowing gehou.

“Ons is aan sy sy deur hierdie lang en moeilike stryd,” het Kehm gesê. “Ons bly vol vertroue.”

Verdere besonderhede is nie bekend gemaak nie om die privaatheid van Schumacher se gesin te beskerm en die mediese span toe te laat om in vrede te werk.

Kehm het in Maart gesê hy toon “geringe tekens” wat hulle “bemoedig”. Maar het bygevoeg dat die proses, om hom wakker te maak, baie lank kan duur. Dokters het op 30 Januarie begin om die medikasie stadigaan te verminder om hom wakker te maak.

Die staatsaanklaer in Frankryk het in Februarie ná ʼn ondersoek gesê daar is geen bewyse van buite-invloede of oortredings wat tot die ongeluk kon lei nie. Schumacher het eers ʼn klip, 4.5 meter van die rand van die skibaan getref en toe sy kop teen ʼn tweede klip, 10.4 meter verder, gestamp. Die impak was só hard dat sy valhelm gekraak het. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Leana ·

Jy KAN dit doen Schumi. Ons gebede met jou vir volkome genesing.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.