Schwarzenegger in stabiele toestand ná hartoperasie

Arnold Schwarzenegger (2017) Foto: AP Photo/Francois Mori, File

Die akteur en voormalige goewerneur van Kalifornië sterk aan in ʼn hospitaal in Los Angeles ná ʼn hartoperasie.

Sy woordvoerder, Daniel Ketchell, het gesê Schwarzenegger is in ʼn stabiele toestand ná ʼn suksesvolle hartklepvervangingsoperasie.

Die 70-jarige Schwarzenegger, gebore in Oostenryk, het die beplande operasie ondergaan om ʼn klep te vervang wat oorspronklik in 1997 vervang is weens ʼn oorerflike hartdefek.

“Die klep van 1997 sou nooit permanent gewees het nie, en het reeds sy lewensverwagting oortref, so hy het besluit om dit nou te vervang,” het Ketchell verduidelik.

ʼn Span dokters het bygestaan en die klep is suksesvol deur ʼn katetermetode vervang. Ketchell het nie in die verklaring gerugte bevestig in ʼn berig deur TMZ dat komplikasies ingetree het en dat dokters nood opehartchirurgie moes toepas nie.

Sebastian Kurz, kansellier van Oostenryk, het die voormalige kampioen-liggaamsbouer sterkte toegewens. Hy het gesê hy sien uit daarna om die akteur in Mei by ʼn klimaatsverandering-vergadering te ontvang.

Schwarzenegger is bekend vir sy rolle in “Terminator” en “Total Recall” ná sy suksesvolle loopbaan as ʼn liggaamsbouer. Hy het in 2003 die politiek betree en is as goewerneur van Kalifornië verkies en het twee termyne in dié amp gedien.

Schwarzenegger het in 1997 aangedui sy hartprobleem is oorerflik en hou nie verband met die gebruik van steroïdes toe hy ʼn liggaamsbouer was nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Peet Schabort ·

Ek het jare gelede ook ‘n berig gelees dat sy kinders (net dogters?) só groot gemaak is dat hul ook self hul beddens moes opmaak en ander huishoudelike take verrig. Sê dit vir sommige bedorwe brokkies vandag?

Cherokee ·

Ek het hom ontmoet in die middel sewentigs terwyl hy uitgenooi (guest poser) was tydens ‘n Mnr Suid Afrika kompetisie. Toe ek die titel van die berig lees het ek onmiddellik aan steroïdes gedink en is bly om te sien hy sê dit is nie die rede nie. Nou wonder ek hoe werk die ‘katetermetode’. Indien enige leser weet kan dit gerus vertel word.

Johann Marx ·

Toe oom Arnold in SA in 1975 in Pretoria (onthou julle nog so ‘n plek?) deelgeneem het, was die omtrek van sy bo-arms 22 duim!! (Vir die jongetjies? Dit is 55cm!!)

Annelise ·

Kateter metode is wanneer hul deur ń groot aar by die lies ingaan en die prosedure doen. Soos met ń angiogram. Die borskars word glad nie oopgemaak nie.

Cherokee ·

Baie dankie dat jy verduidelik, Annelise. Ek het ‘n angiogram ervaar, so ek weet waarvan jy praat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.