Seerowers ontvoer drie bemanningslede van Singapoer-skip

Naniwa Maru 1 Foto: shipspotting.com

Naniwa Maru 1 Foto: shipspotting.com

Swaar gewapende seerowers het drie bemanningslede van ʼn Singapoer-beheerde tenkskip in die Straat van Malakka ontvoer en van die dieselvrag gesteel.

“Die aanval het Dinsdagoggend aan die weskus van Maleisië plaasgevind,” het Noel Choong, hoof van die internasionale maritieme buro (IMB) se seerowerberiggewingsentrum in Kuala Lumpur, Woensdag gesê. Die bemanningslede wat ontvoer is, is van Indonesië. Die tenkskip was glo onderweg na Myanmar.

“Altesaam 12 gewapende seerowers het die tenkskip betree,” aldus ʼn verklaring van die IMB. Die seerowers het glo ook ander tenkskepe gebring wat van die vaartuig se diesel uitgepomp het. “IMB is besorg oor die ontvoering van die drie senior bemanningslede,” het Choong aan AFP gesê. Die skip is nou in Klang-hawe in Maleisië gemeer vir verdere ondersoek.

Die media in Maleisië het gesê die bemanningslede het eers besef hulle is gekaap toe hulle vyf of ses gewapende mans aan boord opgemerk het. Die mans was met ʼn pistool en ʼn panga gewapen.

Geen verdere besonderhede oor die Naniwa Maru 1-vaartuig is bekend gemaak nie. Die eienaar is van Saint Kitts en Nevis, maar dit word deur Singapoer bedryf.

Volgens Choong het seerowers in die verlede hoofsaaklik vrag gesteel, maar nie enige bemanningslede ontvoer nie.

Die Straat van Malakka is ʼn sleutelmaritieme-snelweg wat Europa en die Midde-Ooste aan Asië verbind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.