Seldsame tier vrek toe hy vergiftigde karkas vreet

Argieffoto van ʼn Soematraanse tier (Foto: Captain Herbert/Wikimedia Commons)

ʼn Seldsame Soematraanse tier het gevrek ná hy ʼn skaap gevreet het wat rottegif ingekry het.

Plaaslike inwoners het verlede week in Mandailing Natal in Indonesië op die koplose karkas van die tier afgekom, het Bobby Nopandry, ʼn beampte by die Batang Gadis-wildtuin, gesê. “ʼn Span is ontbied om verder ondersoek in te stel.”

Dit is nog nie duidelik of die lokval doelbewus gestel is om ʼn tier mee te vang nie.

Minstens vyf persone is sedert einde verlede jaar dood ná hulle deur tiere aangeval is op die Soematraanse eiland.

Die polisie in Aceh het intussen gesê vier persone is in hegtenis geneem omdat hulle glo ʼn tier met ʼn lokval gevang en doodgemaak het. Die vier persone is aangekeer toe hulle die tier se vel, kopbeen en tande vir 100 miljoen roepias (byna R122 000) wou verkoop, het ʼn woordvoerder van die polisie, speurder Margiyanta, gesê. “Hulle wou die items na Medan smokkel en was op soek na kopers.”

Die Soematraanse tier is die enigste subspesie-tier wat in Indonesië oor is, ná tiere op die eilande Java en Bali jare gelede uitgesterf het. Daar is slegs sowat 400 wilde Soematraanse tiere oor en die bevolking neem af weens stropery en ʼn verlies aan natuurlike habitat weens ontbossing vir palmolie-plantasies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Rudolph ·

Het ons so min respek vir diere dat ons moet sê hulle ‘vrek’. Hulle sterf en gaan dood net soos ons. Dieselfde pyn, lyding en vrees en benoudheid. My hond sal eendag doodgaan. Hy gaan nie vrek nie.

Amatambo ·

Stem 100% saam – ek het nou wel nie enige katte nie, maar my twee oorblywende “brakenjanne” is soos my kinders – altwee
“optel-kinners” wat my geheel-en-al vertrou om na hulle welsyn om te sien… en ek koester ‘n felle haat teenoor enigiemand wat enige dier of voël leed aandoen… ek kan ook hier byvoeg dat ek soggens deur sowat 30 duiwe – sowel as kleiner voëltjies ingewag word vir hulle daaglikse “ontbyt” van graankos en skoon water – ja, skoon bederf, maar wat ‘n plesier om hulle dop te hou wanneer hulle op die kos in ‘n gefladder van vlerke toesak….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.