Selfmoord vermoed ná NS-Superrugbyster se dood

Die Superrugbyster Sean Wainui (Foto: Chiefs/Twitter)

Daar word vermoed dat die Nieu-Seelandse rugbyspeler Sean Wainui homself om die lewe gebring het toe hy verlede week in ’n motorongeluk gesterf het.

Die plaaslike lykskouer Louella Dunn het Maandag aan die NZ Herald bevestig dat die senter se dood “as ’n vermoedelike selfmoord ondersoek word”.

Die 25-jarige Wainui is verlede Maandag dood toe sy motor ’n boom naby die hawestad Tauranga getref het. Hy was die enigste insittende van die motor.

Meer inligting rakende Wainui se dood mag egter ingevolge ’n tussentydse hofbevel nie bekendgemaak word nie.

Wainui is Sondag in Gisborne ter ruste gelê. Sy vrou, Paige, het intussen ’n hartroerende huldeblyk aan haar man op sosiale media gedeel.

“Ek sal jou vir altyd vier, my lief, vir die wonderlikste en ongelooflikste man en pa wat jy was en die spesiale jare wat ons saam op hierdie aarde kon deurbring.”

Die egpaar het twee jong kinders.

Maroela Media het vroeër berig Wainui het ten tyde van sy dood tien keer vir die Maori All Blacks uitgedraf en 44 Superrugby-wedstryde vir die Waikato Chiefs gespeel.

Wainui het sy Superrugbyloopbaan by die Canterbury Crusaders afgeskop voordat hy hom in 2018 by die Chiefs aangesluit het.

Wainui het in Junie vanjaar vyf drieë teen die NSW Waratahs in Sydney gedruk en gedurende die wedstryd (40-7) ʼn rekord opgestel vir die meeste drieë deur ’n speler in ’n enkele wedstryd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Martie Smartie ·

Hoe op aarde weet hulle dit? Tensy hy ‘n brief of boodskap gelaat het of dit voor die tyd aan ander vertel het dat hy dit gaan doen.

kolonel ·

Hulle vermoed dit slegs. Dink aan dinge soos bv. geen remmerke, versnelling na die boom toe (kar stoor moontlik sulke data, video-kameras wys dit miskien) , geen veiligheidsgordel …
Bloedtoets resultate kan ook ‘n rol speel.

Elmarie ·

Maak nie saak wat die rede was nie, dit bly ongelooflik hartseer. Twee kinders sonder ‘n pa, ‘n vrou sonder haar man en ouers sonder hulle seun.

Snuffelgids ·

Hy het 5 drieë in n wedstryd gedruk, korregeer die artikel

Janice du Plessis ·

Dagsê Piet
Dankie vir jou kommentaar,
Die artikel is intussen gewysig.
Groetnis
Janice
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.