Selfmoordbomaanvalle ruk Tunis

Die toneel van een van die ontploffings in die Tunisiese hoofstad, Tunis. (Foto: @TAPNewsAgency/Twitter)

Selfmoordbomaanvalle in Tunisië het die lewe van een polisielid geëis, terwyl minstens sewe ander mense in die twee ontploffings beseer is.

Tunisië se departement van binnelandse sake het gesê niemand het nog verantwoordelikheid aanvaar vir die bomaanvalle wat kort ná mekaar plaasgevind het nie.

Die eerste ontploffing was kort voor 11:00 Donderdagoggend (plaaslike tyd) toe ʼn selfmoordbomaanvaller ʼn veiligheidspatrollie op Charles de Gaullestraat, naby die Franse ambassade in die hoofstad Tunis, genader het. Tien minute later het nóg ʼn toestel in die Qaranjani-distrik ontplof.

Volgens die departement is minstens drie burgerlikes en verskeie beamptes beseer. ʼn Video wat glo van die aanvalle gemaak is, wys ʼn groep polisiebeamptes wat om ʼn beseerde kollega saamdrom. Dit lyk of dié persoon se kop bloei.

Mense drom saam naby die toneel van een van vanoggend se selfmoordbomaanvalle in die Tunisiese hoofstad, Tunis. (Foto: Riadh Dridi/AP)

Tunisië was tot dusver ʼn seldsame baken van politieke bestendigheid in die Arabiese wêreld, sedert ʼn pro-demokrasie-opstand die 23 jaar lange diktatorskap van pres. Zine el-Abidine Ben Ali beëindig het. Die stabiliteit is van tyd tot tyd bedreig deur politieke sluipmoorde, asook militante aanvalle, sommige deur die ekstremistegroep die Islamitiese Staat.

In 2015 is minstens 60 mense dood in militante aanvalle op toeriste. Dit het die land in ʼn resessie gedompel, maar soortgelyke aanvalle het sedertdien selde voorgekom.

In Oktober verlede jaar het ʼn vroueselfmoordbomaanvaller ʼn groep polisiebeamptes in Tunis se middestad, naby die plek waar vanoggend se aanvalle plaasgevind het, geteiken. Altesaam 20 mense, onder wie 15 polisiebeamptes, is in daardie aanval beseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cherokee ·

Die manlike selfmoordbomaanvallers word deur hul leiers vertel dat 7 mooi vroue tussen die wolke vir hulle wag, of so iets dergliks. Nogal nuuskierig om te weet wat die vroulike selfmoordbomaanvallers dink, op hulle wag. Sal ook een of ander moslem storie wees. Wat ‘n ontnugtering wag op hulle wanneer hulle uitvind hulle is belieg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.