Nadat die getal vroeër reeds verminder is, gaan selfs minder mense nou by die Franse Ope in Parys toegelaat word weens die verslegtende Covid-19-situasie in die land.
Slegs 1 000 toeskouers sal nou elke dag toegelaat word.
Die nuwe beperking – ʼn kwaai vermindering van die 5 000 wat tevore toegelaat is – is Donderdagaand deur eerste minister Jean Castex aangekondig. Sy kantoor het Vrydag bevestig dat die beperking net vir toeskouers geld en nie ʼn uitwerking op die spelers, afrigters, organiseerders en ander werkers by Roland Garros het nie. Daar was groot verwarring nadat dié betrokkenes aanvanklik by die getal ingesluit is.
Terwyl Covid-19-infeksies in die land toeneem, moes die organiseerders van die toernooi deurlopend aanpassings maak om by bepalings te hou.
Drie weke gelede sou 11 500 toeskouers nog per dag toegelaat word. Hulle sou tussen die drie hoofbane verdeel word. Dit is daarna tot 5 000 verminder en staan in hierdie stadium op 1 000.
Die jongste vermindering is in ooreenstemming met die nuwe skarebeperkingsgrens wat vir Parys en omliggende buurte in werking gestel is in ʼn hernieude poging om infeksies en hospitaalopnames te keer.
Frankryk het teen Vrydagoggend altesaam 497 237 bevestigde Covid-19-gevalle gehad en 31 511 mense het reeds weens die virus gesterf.