Senegal-voëlpark sluit ná honderde pelikane vrek

Pelikane (Foto: Pixabay)

ʼn Groot voëlpark in die noorde van Senegal in Afrika is vir die publiek gesluit nadat minstens 750 pelikane op ʼn ongewone wyse gevrek het.

Die oorsaak van die massavrekte is nog onbekend, maar voorlopige ondersoek dui nie op voëlgriep nie.

Altesaam 740 jong en volwasse pelikane is Vrydag dood in die Djoudj National Bird Sanctuary aangetref.

Volgens die ministerie van omgewingsake is ʼn nadoodse ondersoek gedoen. Die karkasse en afval is vernietig en die park is vir die publiek gesluit, ook vir die kano-toere deur die waterweë van die park.

Die voëlpark word sedert 1981 deur UNESCO as ’n erfenisterrein gelys, en is ’n belangrike toerisme-aantreklikheid in Senegal.

Die park bestaan uit vleilande, grasvlaktes, kanale, moerasse en mere wat in die Senegal-rivierdelta geleë is. Daar is meer as drie miljoen individuele voëls van byna 400 spesies.

Die owerhede het voëlgriep reeds uitgeskakel as ’n moontlike oorsaak van die buitengewone vrektes onder die pelikane. ’n Onlangse uitbreking van voëlgriep op ’n plaas in die weste van Senegal is glo onder beheer gebring.

“Voëls wat graan vreet is vatbaar vir voëlgriep; pelikane leef van vis,” het Bocar Thiam, direkteur van nasionale parke, gesê.

“Ons sal moet wag op die uitslag van die nadoodse ondersoek wat oor vier dae beskikbaar sal wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.