Serena Williams maak gereed om raket op te hang

Serena Williams. Foto: Adrian Dennis/AFP.

Serena Williams, ’n 23-malige Grand Slam-tenniskampioen, het Dinsdag gesê “die aftelling het begin” tot haar uittrede uit die sport.

“Daar kom ʼn tyd in die lewe wanneer ons moet besluit om in ’n ander rigting te beweeg,” het die 40-jarige Amerikaner in ʼn Instagram-plasing gesê. “Ek moet daarop fokus om ʼn ma te wees, my geestelike doelwitte en uiteindelik ʼn ander, maar net (so) opwindende Serena te ontdek. Ek gaan die volgende paar weke geniet.”

Williams het verlede jaar ʼn geskeurde regterdyspier by Wimbledon opgedoen. Sy het in Junie weer vir die eerste keer gespeel in ʼn dubbelspel by Eastbourne waarna sy ʼn terugkeer tot Wimbledon gemaak het maar in die eerste ronde uitgeskakel is.

Williams het Spanje se Nuria Parrizas Diaz Maandag verslaan om die tweede ronde van die WTA-byeenkoms in Toronto te haal. Dit was haar eerste enkelspel-oorwinning sedert die 2021 Franse Ope, 14 maande gelede.

Williams sal na verwagting nog aan die Amerikaanse Ope deelneem, waar sy haar eerste Grand Slam-titel in 1999 op 17-jarige ouderdom gewen het.

Serena Williams. Foto: (AP Photo/Charles Krupa)

“Ek het nog nooit van die woord uittrede gehou nie. Dit voel nie vir my soos ʼn moderne woord nie,” het Williams in ʼn artikel in Vogue gesê.

“Miskien is evolusie die beste woord om te beskryf waarmee ek besig is. Ek is hier om vir jou te sê dat ek weg van tennis ontwikkel, na ander dinge wat vir my belangrik is.”

Williams se laaste Grand Slam-oorwinning was in 2017 se Australiese Ope toe sy reeds swanger was met haar dogter Olympia. Sy was ná haar dogter se geboorte vir ses weke bedlêend nadat sy ʼn pulmonêre embolisme opgedoen het en het gesê sy wil nie weer speel terwyl sy swanger is nie.

Williams het al sewe Wimbledon-, sewe Australiese Ope-, ses Amerikaanse Ope- en drie Franse Ope-titels gewen.

Sy is ook ʼn sakevrou en het bekend gemaak dat sy graag nog ʼn kind wil hê.

“Ek was huiwerig om aan myself of enigiemand anders te erken dat ek moet aanbeweeg van tennis speel.” Williams word later die maand 41 jaar oud.

“Ek hoop mense het oor die jare begin dink dat ek iets meer as tennis simboliseer,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

wendy ·

Ja gee ander ook n kans genoeg van jou gesien tyd vir aftrede goed gespeel deur die jare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.