Ses dood, 28 beseer ná skietery by universiteit

Die gewapende man het Maandagoggend op studente en dosente losgebrand. (Foto: Perm State National Research University/Facebook)

Talle mense is dood of ernstig beseer toe ʼn gewapende man Maandagoggend op studente en dosente op ʼn universiteitskampus in Rusland losgebrand het.

Rusland se misdaadondersoekkomitee het in ʼn verklaring gesê minstens ses mense is tydens die voorval by die Perm State- nasionale navorsingsuniversiteit in Perm dood. Altesaam 28 mense het beserings, waarvan die aard en ernstigheid verskil, opgedoen.

Studente en personeel aan die universiteit het glo hulself in klaskamers toegesluit en diegene wat kon, aangemoedig om te ontsnap, berig The Guardian.

Beeldmateriaal wat op sosiale media versprei word, wys hoe talle mense hul besittings by vensters uitgooi voordat hulle ook uit klaskamers spring om van die skieter te vlug.

Swetlana Petrenko, woordvoerder van die komitee, het bevestig dat die verdagte kort ná die voorval geïdentifiseer en in hegtenis geneem is.

“Die verdagte het hom teen inhegtenisneming verset en is tydens ʼn gestoei met beamptes beseer. Hy is na ʼn mediese fasiliteit geneem vir behandeling.”

Volgens Petrenko het die skieter, wie se identiteit weerhou word, ʼn wettige jaggeweer gebruik wat in Mei vanjaar gekoop is.

“Ondersoekbeamptes het die kampus begin fynkam en getuies word ondervra om die moontlike rede vir die aanval vas te stel,” het sy gesê.

Pres. Wladimir Poetin het die massaskietery as ʼn groot ramp beskryf en sy meegevoel met die betrokke slagoffers en hul families betuig, berig Sputnik International.

“Ek verstaan dat geen woorde van simpatie die verlies en pyn kan verdoof nie. Dit is ʼn groot ramp wat nie net die gesinne van die slagoffers getref het nie, maar ook die hele land.”

Dié voorval is die tweede massaskietery by ʼn onderwyssentrum in Rusland vanjaar, berig News24.

ʼn 19-jarige man het in Mei nege mense doodgeskiet toe hy op sy voormalige skool in Kazan losgebrand het. Volgens owerhede het die man glo aan ʼn geestesversteuring gely, maar kon steeds ʼn vuurwapenlisensie vir ʼn haelgeweer bekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.