Ses dood, drie gewond in Texas-skietery

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Frederic J Brown/AFP)

ʼn Man van Texas in die VSA is Woensdag in hegtenis geneem ná ʼn skietvoorval die lewe van ses mense geëis het. Nog drie mense, onder wie twee polisiebeamptes, is gewond.

Volgens Robin Henderson, waarnemende hoof van die polisie in Austin, het die skietery Dinsdag binne ure in die stad in Texas plaasgevind.

“Vier slagoffers is doodgeskiet en ʼn man en ʼn vrou is dood in ʼn huis in die San Antonio-omgewing aangetref. Die verdagte was ook in ʼn skietery met die polisie betrokke.

“Ons glo vas dat een verdagte vir al die voorvalle verantwoordelik is. Hy is egter nou in aanhouding en hou nie meer ʼn bedreiging vir die Austin-gemeenskap in nie”.

Henderson sê die skietery tussen die polisie en die verdagte het later op die toneel van ʼn rooftog – waar twee slagoffers dood aangetref is – uitgebreek.

“Een van die polisiebeamptes is tydens die skietery gewond, waarna die gewapende man in ʼn voertuig van die toneel gevlug het. Die polisie het hom egter in ʼn jaagtog agterna gesit waarna hy met die voertuig in ʼn botsing betrokke was.

“Die man is in die besit van ʼn vuurwapen in hegtenis geneem en van moord aangekla.”

Henderson het die voorvalle as ʼn reeks “tragiese gebeure en afgryslike misdade” beskryf.

Minstens vier voorvalle in Texas word met dieselfde verdagte verbind; dit sluit in twee dubbelmoorde, die wond van ʼn polisiebeampte naby ʼn skool en die rig van ʼn vuurwapen op ʼn verbygaande fietsryer.

Owerhede het later die verdagte se huis in Bexar in San Antonio deursoek, waar hulle die liggame van ʼn man en ʼn vrou, vermoedelik in hul 50’s, teen die deur van ʼn klein kamertjie aangetref het.

“Dit is beslis ʼn gruwelike misdaadtoneel,” het Javier Salazar, sheriff van die Bexar-distrik, aan verslaggewers gesê.

Hy sê hulle vermoed die man het eers die Bexar-moorde gepleeg “waarna hy na Austin gery het en daar die ander grumoorde gepleeg het”.

Skietvoorvalle is kommerwekkend algemeen in die VSA, ʼn land waar daar meer vuurwapens as burgers is en waar pogings om die verspreiding van vuurwapens hok te slaan altyd met hewige politieke weerstand begroet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.