Ses dood in Sacramento-skietery

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Andri Tambunan / AFP)

Minstens ses mense is dood en 12 beseer in ’n skietery Sondag in die vroeë oggendure in Sacramento, Kalifornië.

Kathy Lester, die stad se polisiehoof, het aan verslaggewers gesê “’n groot bakleiery” het omstreeks 02:00 in die middestad uitgebreek voordat verskeie mense met vuurwapens losgebrand het.

Beamptes wat daar naby op patrollie was, het die geweerskote gehoor en mense sien hardloop, het sy gesê. Met hul aankoms op die toneel het hulle ’n groot skare en verskeie slagoffers aangetref.

Ses mense – drie mans en drie vroue – is op die toneel dood verklaar. Die 12 beseerdes is na hospitale geneem vir behandeling.

Darrell Steinberg, burgemeester van Sacramento, het Sondag tydens ’n mediakonferensie gesê van die slagoffers het ernstige en kritieke beserings opgedoen.

Hy het ook ’n beroep op enigiemand met inligting gedoen om die owerhede te kontak. Lester het gesê ’n gesteelde handwapen is op die toneel gevind en dat ondersoekers reeds verskeie video’s en wenke van lede van die publiek ontvang het.

Die skietery het in die middestad plaasgevind waar verskeie kroeë en nagklubs is en net ’n paar blokke weg van waar die NBA se Sacramento Kings speel.

Steinberg het gesê dit is moeilik om die regte woorde te vind om die tragedie te beskryf.

“Toenemende wapengeweld is die plaag van ons stad, staat en nasie, en ek ondersteun alle optrede om dit te verminder,” het hy gesê.

Gavin Newsom, goewerneur van Kalifornië, het in ’n plasing op Twitter gesê: “Ons kan nie voortgaan om toe te laat dat wapengeweld die nuwe normaal is nie”. Hy het dit as ’n “krisis” vir die VSA beskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tiptol ·

Hierdie geval maak internasionale nuus. Wat van al die moorde in ons land? Wanneer gaan dit internasionale nuus haal?

Jean ·

Daar word +-60 mense ‘n dag in SA vermoor, en dan is daar dalk een berig ‘n dag vir 1 moord.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.