Ses dood, talle beseer in stormloop by nagklub

Beseerde persone word buite die nagklub in Corinaldo, Italië behandel (8 Desember 2018) (Foto: Vigili del Fuoco via AP)

Ses persone is Saterdag in die vroeë oggendure dood en meer as 50 persone beseer tydens ʼn stormloop van paniekbevange konsertgangers by ʼn klub in Italië.

Drie meisies, twee seuns en ʼn vrou, ʼn ma wat haar dogter na die disco in Corinaldo naby Ancona vergesel het, is dood, het Oreste Capocasa, Ancona-polisiehoof, gesê. ʼn Kletsrymer sou by die klub opgetree het.

Die liggame van die vertrapte slagoffers is naby ʼn lae muurtjie in die klub gevind, het Dino Poggiali, bevelvoerder van Ancona-brandweer, aan Sky TG24 News gesê.

Minstens een van die nooduitgange was versper of die deur wou nie werk nie, het Poggiali verduidelik. Dit is egter nog te vroeg in die ondersoek om te bepaal of enige veiligheidsoortredings begaan is. Toe reddingsbeamptes opgedaag het, was al die deure van die klub oop.

Hy kon nie dadelik ooggetuies se bewerings bevestig dat iets, soortgelyk aan pepersproei, gespuit is en dit tot die paniek aanleiding gegee het nie.

Beseerde persone word buite die nagklub in Corinaldo, Italië behandel (8 Desember 2018) (Foto: Stefano Pagliarini/Ancona Today via AP)

Veertien van die beseerde persone is in ʼn ernstige toestand. Ongeveer 40 persone het geringe beserings opgedoen, aldus Poggiali.

Die Italiaanse nuusagentskap ANSA het gesê die gehoor by die Italiaanse kletsrymer Sfera Ebbasta se konsert by Lanterna Azzurra-nagklub het paniekerig geraak toe iets soos pepersproei gespuit is en hulle het na die nooduitgange gehardloop.

“Dit was ʼn gemors. Die uitsmyters het gehelp om persone uit die klub te kry,” het een van die ooggetuies aan RAI-staatsradio gesê. “Ek is na die hoofingang. Mense het geval en bo-op mekaar geval. Dit was absurd.”

ʼn 16-jarige seun het aan ANSA gesê discogangers het gedans terwyl hulle gewag het vir die konsert om te begin toe die stormloop plaasgevind het. Hy word in die hospitaal behandel. Volgens hom was minstens een van die nooduitgange gesluit toe hy wou vlug.

Owerhede wou nie dadelik die ouderdomme van die slagoffers bekend maak nie. Ongeveer 1 000 persone was in die klub toe die stormloop gebeur het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.