Ses doodgeskiet tydens betogings in Mianmar

Veiligheidsmagte in die hoofstad Yangon.(Foto: Sai Aung Main / AFP)

Mianmar se veiligheidsmagte het Sondag minstens ses betogers doodgeskiet toe duisende weer die strate ingevaar het in opstand teen die staatsgreep.

Die junta sukkel om ʼn massiewe opstandbeweging onder beheer te bring. Betogers eis dat die demokraties verkose leier Aung San Suu Kyi summier vrygelaat word en die weermag van Mianmar afstand doen van die mag wat hy in die staatsgreep oorgeneem het.

Die betogings het egter vandag ’n laagtepunt bereik toe sterftes in drie stede in Mianmar aangemeld is.

Drie mans is dood en minstens 20 beseer toe veiligheidsmagte op betogers in Dawei, ʼn stad in die suide van die land, losgebrand het. Die reddingswerker Pyae Zaw Hein het gesê die mans het “in geweervuur omgekom” terwyl die beseerdes deur rubberkoeëls getref is.

“Daar kom al meer gewonde mense in,” het hy aan AFP gesê.

Betogers word in Yangon met traangas verjaag. (Foto: Sai Aung Main / AFP)

Twee tieners is doodgeskiet in Bago, ʼn stad sowat 70 km noord van die hoofstad, Yangon. ’n 23-jarige man is ook in dié stad doodgeskiet toe veiligheidsmagte klein groepe mense uitmekaar wou jaag.

“Sy vrou is gebroke,” vertel ʼn maatskaplike werker wat die man se weduwee besoek het. “Sy is drie maande swanger.”

’n Man in Mandalay is ook in ʼn kritieke toestand na ʼn hospitaal gehaas nadat ʼn projektiel hom in die kop getref het.

Honderde mense is vandag te midde van die chaos in hegtenis geneem.

Minstens een joernalis wat verslag gedoen het oor gewelddadigheid aan die hand van die veiligheidsmagte, is aangerand en in aanhouding geneem. ʼn Ander verslaggewer is met rubberkoeëls tydens ʼn betoging in die stad Pyay geskiet.

ʼn Woordvoerder van die regerende junta het nie gereageer op oproepe om kommentaar op vandag se geweld te lewer nie.

Minstens vyf mense is voor vandag in die onluste sedert die staatsgreep dood.

‘n Betoger word in Taunggyi in hegtenis geneem. (Foto: STR / AFP)

Betogers word in Yangon met traangas verjaag. (Foto: Sai Aung Main / AFP)

Veiligheidsmagte stel ‘n pad in Taunggyi oop nadat betogers versperrings aangebring het. (Foto: STR / AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kokerboom ·

Dis so tragies maar dit gebeur as onwettige onbevoegde regimes regerings oorneem

Rentia ·

Ek kan nogal sien dat so opstand in SA kan plaasvind. Mense is moeg vir die korrupte regering. ONS is moeg vir die anc se mooi praatjies en bedrog agter die rug. Hierdie reëls wat absoluut geensins sin maak nie, en letterlik veroorsaak dat mense sterf van die honger. Maar die regering was sy hande, die geld is op… Ek vermoed so opstand gaan kom vroeër as later…

Hennie J ·

Our people kom gereeld in opstand en word sagkens gehanteer.Wee die dag as ons mense in op die wyse in opstand kom………….hulle sal ons afmaai! Gelukkig het ons breinkrag aan ons kant en sal ons meer toepaslik optree.

ES ·

Ek is eintlik verbaas dat daar nie al so opstanding in Zim plaasgevind het nie. Maar dit lyk of die mense maar net hul lot aanvaar het daar.

Want vandat ou Bob nie meer in bewind is nie gaan dit nie veel beter met daardie land nie. Hulle gaan ‘n 100 jaar vat om te herstel van die ekonomiese skade wat daar aangerig is.

Hoekom ·

Frankryk was beter af onder Napoleon as enige monarg of gekoopte mondstuk politikus, in die hede en verlede…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.