Ses maande later: Oorlog in Oekraïne se effek reeds verreikend

‘n Winkelsentrum in die stad Kremenchuk is heeltemal verwoes. (Foto: STR/Ukraine emergency ministry press service/AFP)

Die Oekraïne-konflik plaas baie druk op die humanitêre stelsel en kan ʼn blywende impak hê op die vermoë van organisasies om wêreldwyd op noodgevalle te reageer, het die Rooi Kruis Dinsdag gewaarsku.

Die oorlog, wat ses maande gelede uitgebreek het, het mense “tot ʼn kritieke breekpunt gedryf”, sê Francesco Rocca, president van die Internasionale Federasie van die Rooi Kruis en Rooi Halfmaan-verenigings (IFRC). “Die verwoestende uitkringeffek word al hoe groter soos wat die konflik voortduur, met prysverhogings vir kos en brandstof en ʼn koskrisis wat al hoe meer vererger,” het hy in ʼn verklaring gesê.

Die Rooi Kruis, wat nou meer as 100 000 plaaslike vrywilligers en personeel in Oekraïne en nabygeleë lande het, brei steeds sy humanitêre hulp uit. Die organisasie het gewaarsku dat, “selfs al kom die konflik môre tot ʼn einde, sal dit jare lank vat om die skade aan stede en huise en die impak op families te herstel”.

Stygende inflasie en tekorte aan noodsaaklike produkte soos brandstof en kos in Oekraïne en buurlande beteken dat mense sukkel om basiese benodigdhede te bekostig. En die behoefte sal al hoe groter word soos wat die winter nader kom.

“Dit gaan die moeilikste winter wees,” het Maksym Dotsenko, hoof van die Rooi Kruis in Oekraïne, in ʼn virtuele perskonferensie gesê.

Rusland se inval op 24 Februarie in Oekraïne, een van die wêreld se grootste graanuitvoerders, het reeds ʼn impak op voedseltekorte in van die armste lande in die wêreld. Ondanks pogings om Oekraïne se graanuitvoere oor die Swartsee te vervoer, is die land se graanuitvoere reeds vanjaar 46% laer, het die IFRC bygevoeg. “Die massiewe daling het ʼn yslike impak op die Groter Horing van Afrika waar meer as 80 miljoen uiterste hongersnood beleef. Dit is die ergste voedselkrisis die afgelope 70 jaar.”

Birgitte Bischoff Ebbesen, die IFRC se streekdirekteur vir Europa en Sentraal-Asië, waarsku dat hulp wêreldwyd toeneem te midde van die rimpeleffek van die konflik. “Die krisis plaas die hele humanitêre stelsel onder druk. Dit sal ʼn blywende impak hê op die kapasiteit van humanitêre organisasies en skenkers om elders op nood te reageer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pieter ·

Brandstofprys wat so hoog is? Olie is rond $95/vat en $17 teen Rand. Oorlog word misbruik om prys onnodig hoog te maak om die middelklas te sink.

Verder, daar kan ‘n einde aan die oorlog gebring word maar geen dialoog vind plaas nie want elkeen het sy eie agenda soos die VSA. Europa sink en VSA word sterker.

andre ·

Noorwee vra nou belagike pryse vir olie ,maar niemand kla daaroor nie .

Danie ·

In die era waarin ons vandag leef is oorlog taboe wat verwag jy van kommuniste en hul ondersteuners dink net aan hulself.Selfveryking

Andre ·

Ja, die kommies wat die oorlog aanblaas en betaal versuur almal se lewe.

Gaitsigubib ·

Vergewe my asb as ek stupid is, maar kommunisme = “total government” as ek my politiek reg verstaan. Is dit nou vir Biden of Putin wat julle hier beskuldig…. dalk albei?

Treurwilger ·

Die mees tragiese feit is dat hierdie oorlog geensins onvermydelik was nie. Inteendeel.
Die “verwoestende uitkringeffek” van hierdie oorlog kan direk toegeskryf word aan “Globalisme”.
Die eens grote wêreld het gekrimp tot ‘n kleinerige stad.
Almal is van almal afhanklik en uitgelewer aan buurman se nukke en grille.
Die konflik sou al opgelos wees, óf nooit eers tot uitbarsting gekom het, as slegs twee partye ‘n oplossing moes vind nie.
Maar nee, daarvoor sien politici net té veel geleenthede.

goodCOP ·

Oekraïne moenie kommer nie, die weste het julle in die posisie gekry en hulle sal julle daar uitkry ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.