Ses sterf in hinderlaag in Afrika se oudste wildreservaat

virunga-veldwagters

Die direkteur van die Virunga Nasionale Park, Emmanuel de Merode, saam met ‘n groep veldwagters. Die veldwagters doen waarskynlik een van die gevaarlikste werke in bewaring waar hulle ondermeer Gorillas beskerm. Foto: Virunga.org

ʼn Groep veldwagters is vroeër die week in ʼn hinderlaag in die Virunga Nasionale Park in die Demokratiese Republiek van die Kongo doodgeskiet.

Volgens BBC.com is die veldwagters Maandag vermoedelik deur ʼn groep rebelle aangeval terwyl die span in die gedeelte van die park wat grens aan Uganda gery het. ʼn Sewende veldwagter, die leier van die span, is ook in die voorval gewond.

Die jongste voorval volg kort ná nog ʼn veldwagter op 2 April dood is nadat hy ook deur gewapende mans aangeval is. Die veldwagter was tydens die aanval as sekuriteitswag by ʼn bouterrein van ʼn hidro-elektriese kragstasie in die park gevestig.

Virunga Nasionale Park, wat in 1925 gestig is, word dikwels as die oudste nasionale park in Afrika beskryf. Dit is een van die belangrikste bewaringsgebiede in die wêreld en dek 7 800 vierkante kilometer in die ooste van die Kongo wat grens aan Uganda en Rwanda.

Wat die nasionale park veral besonders maak, is dat dit tans die tuiste van sowat ʼn kwart van die wêreld se bevolking van die kritiek bedreigde berggorilla is. Die oostelike lae-land Gorillas, sjimpansees, okapi’s, leeus, olifante en seekoeie word ook hier aangetref.

Ongelukkig is Virunga in DRK se Noord-Kivu-provinsie in die ooste van dié land geleë waar gewapende groepe vir die beheer oor territoriale en natuurlike hulpbronne veg. Die streek word gekenmerk as ʼn wettelose streek waar daar dikwels konflik tussen die regering en verskeie rebellegroepe is. Wildstropery is ook ʼn groot bedreiging in die park.

Die direkteur van die park, Emmanuel de Merode, is in Mei 2014 ook in ʼn hinderlaag tussen die park en Goma, die hoofstad van Noord-Kivu, gewond. Sowat 170 veldwagters het sedert 1996 in die park gesterf, terwyl hulle die park se wildlewe beskerm het.

The Guardian het die jongste aanval op veldwagters in die park as een van die ergste tot dusver beskryf en aangevoer die stygende dodetal het daartoe gelei dat die park nou die reputasie het as die gevaarlikste bewaringsprojek in die wêreld.

Nog vyf veldwagters is in Augustus 2017 dood toe die plaaslike milisie die pos in die noordelike deel van die park aan die oewers van die Edward-meer aangeval het.

Die DRK het die afgelope paar maande gedreig om weer in ʼn burgeroorlog te verval wat tussen 1997 en 2003 tot die dood van vyf miljoen burgers gelei en die park van sy wildlewe gestroop het.

Waarnemers hoop ʼn katastrofe sal vermy kan word, maar beskryf die land as “op die randjie van ʼn afgrond”.

Die park se veldwagters word uit dorpe rondom die wildreservaat gewerf. Hulle is meestal getroud en het kinders. Al die veldwagters wat Maandag dood is, was tussen 22 en 30 jaar oud. Veldwagters word tans ʼn maandelikse salaris van $250 betaal, wat ʼn redelike bedrag in die DRK is.

Inisiatiewe in die park fokus op plaaslike gemeenskappe met mikrolenings en hidro-elektriese kragprojekte om die plaaslike ekonomie te bevorder.

Virunga se berggorilla-bevolking het tydens die burgeroorlog wat van 1997 tot 2003 geduur het tot 300 gedaal. Die berggorilla-bevolking staan nou op meer as 1 000 nadat daar in 2007 ʼn vennootskap gestig is om die park te rehabiliteer.

De Merode, ʼn Belgiese aristokraat, het die voortou in die hervormings geneem en talle strategieë ingestel om die Kongolese wildlewe te red. Bosolifante se getalle het nou ook gestyg en toeriste het sedertdien in beduidende getalle na die park teruggekeer.

Hy het gesê die park se veldwagters is hartseer om nog kollegas te verloor. Volgens De Merode is dit onaanvaarbaar dat die veldwagters steeds die hoogste prys moet betaal in die verdediging van die land se gemeenskaplike erfenis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

linda ·

Baie hartseer nuus, rus in vrede, hulle het hulle lewens gegee vir bewaring

Ella ·

Wat het Trump n paar maande gelede gese oor Afrika? Hier is n tipiese voirbeeld van wat aangaan op die kontinent. Jammer oor die lewensverlies deur misdadigers wat net wil uitroei en moor. Wildbewaarders doen ook maar net die werk wat baie nie wil doen.

KannalandGebruiik drones ·

Hulle moet almeer drones en robotte gebruik om stropers en ander misdadigers vas te vat. Bewaring kan die sterk oorwinnaar word.

AFRICA ·

DIT IS AFRIKA, en nou wil die ANC en EFF die stukkie van AFRIKA wat nog nie in anargie verval het en waar lewens nog darem nie heeltemal NIKS beteken nie ook verander in ‘n land waar ‘n lewe niks beteken nie .. waar daar geen respek meer vir enigeen ongeag kleur of posisie is nie .. die parlementariers sit daar bo in hulle hoe posisies en leef in weelde met lyfwagte en die res van die bevolking moet maar afchop .. SA is vinnig oppad hierheen !! Jammer aan die veldwagters en hulle gesinne …

Wonder ·

Hoop die polisie en weermag van die Kongo is ook nie towenaars nie. Dat ‘n dosiere reeds geopen is en dit verdwyn nie.

marous ·

Die wereld was ‘n fantastiese plek toe diere die mens gejag het , wat in grotte moes wegkruip…

TDW ·

Hoe kan Virunga as die oudste nasionale park beskou word as die Kruger wildtuin reeds voor 1900s as ‘n beskermde area geklassifiseer is?
Ek is regtig jammer om te hoor van die wildbewaarders. So sinneloos. Mag die guerilla oorloë in Afrika nou end kry. Ek kan net vra dat God sy Wysheid oor die hele Afrika stort.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.