Ses sterf toe ‘Die Hard’-helikopter val

Argieffoto van ʼn UH-1H Huey (Bell 205) (Foto: Airwolfhound van Hertfordshire, Verenigde Koninkryk via Wikimedia Commons)

ʼn Helikopter uit die Viëtnam-era, wat in flieks soos Die Hard te sien was, het in Wes-Virginië in die VSA geval. Al ses mense aan boord is oorlede, het owerhede en plaaslike media gesê.

Beamptes in Logan County, waar die Bell UH-1B-helikopter geval het, sê die Route 17-hoofweg is gesluit weens die ongeluk. Die nasionale raad vir verkeersveiligheid, het op Twitter bevestig hy het ondersoekbeamptes na die toneel ontplooi.

“Die helikopter het Woensdag omstreeks 17:00 plaaslike tyd neergestort. Ses mense was aan boord,” het die federale lugvaartadministrasie (FAA) Donderdag in ʼn e-pos aan AFP gesê. “Die FAA en die nasionale raad vir verkeersveiligheid stel ondersoek in.”

Ray Bryant, hoof van bedrywighede vir die Logan-nooddienste, het aan AFP gesê al ses persone is oorlede.

Die helikopter was by ʼn nabygeleë lughawe gebaseer en is vir toeristevlugte gebruik. Dit het in ligte laaie gestaan toe reddingsbeamptes opgedaag het, het Bryant aan die plaaslike televisiestasie WSAZ gesê. Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie.

Die Bell UH-1B, ook bekend as ʼn “Huey”, is in die 1950’s ontwikkel en is deur die Amerikaanse weermag tydens die oorlog in Viëtnam gebruik.

Volgens die FAA is die betrokke helikopter in 1962 vervaardig.

NBC het berig die helikopter is gebruik as deel van ʼn byeenkoms vir geskiedenis-entoesiaste by die Marpat Lugvaart-opleidingskool in Logan County.

Volgens die Marpat-webwerf het die helikopter in 1962 in Viëtnam aangekom en is gebruik in ʼn weermageenheid bekend as “The Knights of the Sky” tot 1971, toe dit na die VSA teruggekeer het.

“Sy is nou waarskynlik die oudste Huey in die wêreld wat nog vlieg,” aldus die webwerf. Die helikopter was in verskeie flieks insluitend Die Hard, The Rock en Outbreak te sien.

Plaaslike inwoner Bobbi Childs het aan WSAZ gesê sy het die nooddienste ontbied en toe self na die toneel gehaas. “Ek het so vinnig as wat ek kon gehardloop. Ek het na die helikopter gehardloop, maar die vlamme was te erg, te intens.”

Jim Justice, goewerneur van Wes-Virginië, het op Twitter gesê hy en sy vrou “bid vir die families van diegene wat in dié tragiese ongeluk oorlede is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.