Ses weke lange afsondering vir Engeland ná infeksies hoogte inskiet

‘n Britse gesin kyk na eerste minister Boris Johsnon se aankondiging op TV. (Foto: Paul Ellis/AFP)

Die Britse eerste minister Boris Johnson het Maandag ʼn ses weke lange afsonderingstydperk vir Engeland se 56 miljoen inwoners aangekondig – wat die sluiting van skole insluit – ná ʼn skerp styging in koronavirusgevalle te midde van waarskuwings dat die land se hospitale binnekort kan ineenstort.

Johnson het benadruk dat Brittanje die leiding neem met die verspreiding van twee entstowwe, waaronder een van die Universiteit van Oxford en een van AstraZeneca. Daar is Maandag met laasgenoemde se verspreiding begin.

Alle prioriteitsgroepe behoort teen die middel van Februarie entstof te ontvang.

“Vir nou is ek bevrees ons sal eers weer moet tuisbly, die Nasionale Gesondheidsdiens (NHS) moet beskerm en lewens red,” het Johnson gesê.

Die afsonderingstydperk tree vroeg Woensdag in werking en duur tot middel Februarie.

Die eerste minister was onder druk van wetenskaplikes, opposisiepartye en die Verenigde Koninkryk (VK) se ander lede om fermer op te tree. Skotland het vroeër die dag reeds bekend gemaak dat hy vir die res van die maand ʼn inperkingstyd instel.

In die stryd tussen die inentingsveldtog en Covid-19, het die verspreiding van ʼn nuwe stam van die virus gedreig om die oorhand te kry, het die VK se hoof- mediese beamptes gewaarsku terwyl die land se nasionale waaksaamheidvlak tot die maksimum van vyf verhoog is.

Op Brittanje se noodwaaksaamheidskaal beteken dit die land se gesondheidsdienste kan binne 21 dae oorweldig word as dringende stappe nie gedoen word nie.

Eksamens, vlugte

Die nuwe afsonderingstyd wat Johnson aangekondig het, lyk naastenby soos die aanvanklike inperking wat van Maart tot Junie geduur het en gaan selfs verder as die een wat in November in werking gestel is. Toe is skole minstens toegelaat om oop te bly.

Die besluit beteken die land se naderende skooleksamen sal na verwagting nie voortgaan nie, het die regering toegegee. Dit veroorsaak groot onsekerheid vir miljoene gesinne, onder wie ook dié van leerders wat gehoop het dat hulle binnekort aan universiteite kan begin studeer.

Anders as tydens die eerste afsonderingstydperk, sal elite sportsoorte soos die Premier-sokkerliga steeds voortgaan.

Tydens die eerste afsonderingstyd het Brittanje sy grense oopgehou vir internasionale reis. Die regering sê nou egter hy hersien die besluit oor inkomende vlugte nadat ʼn nuwe stam van die virus in Suid-Afrika gevind is.

Amptenare het die erns van die verspreiding, weens die variant van die virus wat in die suidooste van Engeland na vore gekom het, benadruk.

Hospitaalopnames is nou 40% hoër as tydens die land se lentekruin wat op 12 April bereik is.

Teen 4 Januarie was daar altesaam 26 626 Covid-19-pasiënte in hospitale in Engeland, ʼn toename van meer as 30% sedert ʼn week tevore.

“Ons is nie oortuig dat die NHS ʼn verdere volgehoue toename in gevalle kan hanteer nie en sonder verdere optrede is daar ʼn beduidende kans dat die NHS in sommige gebiede oorweldig kan word,” het mediese beamptes gesê.

Parlement moet stem

Brittanje, een van die lande wat wêreldwyd die swaarste deur die internasionale gesondheidskrisis getref is – meer as 75 000 sterftes is reeds bevestig – se hoop is nou op ʼn massa-inentingsveldtog.

Meer as 50 000 positiewe gevalle is egter die afgelope week daagliks bevestig.

Sowat 44 miljoen mense, meer as driekwart van Engeland se bevolking, is reeds ingevolge die bepalings aangeraai om tuis te bly en van daar te werk.

Met die nuwe afsonderingstydperk sal alle nie-noodsaaklike winkels hul deure landwyd moet sluit. Dit sluit kroeë, restaurante en ander gasvryheid- en vermaaksentrums in.

Die parlement is van sy vakansie teruggeroep om Woensdag oor die nuwe maatreëls te stem.

Die leier van die Arbeidersparty, Keir Starmer, het sy steun vir die afsonderingstyd gegee nadat hy die regering oor die naweek kwaai gekap het.

Makliker om te berg

Johnson se aankondiging het die toediening van die eerste Oxford/AstraZeneca-entstof aan die eerste mens buite ʼn kliniese proef oorskadu.

Brian Pinker (82), ʼn afgetrede instandhoudingswerker wat dialise vir ʼn niersiekte ontvang, het die inenting by ʼn hospitaal in Oxford ontvang en gesê “dit is die enigste manier om bietjie van ʼn normale lewe terug te kry”.

Sowat 530 000 dosisse gaan na verwagting by nuwe inentingsentrums in Brittanje toegedien word en is bykomend tot diegene wat sedert verlede maand die Pfizer-BioNTech-entstof ontvang.

Brittanje was die eerste land ter wêreld om ʼn entstof deur Pfizer-BioNTech op 2 Desember goed te keur en het reeds aan bykans ʼn miljoen mense ʼn eerste dosis gegee.

Die Oxford/AstraZeneca-weergawe is veel goedkoper per dosis en is ʼn meer bekostigbare opsie vir ontwikkelende lande.

Dit kan ook in die yskas gehou word, terwyl Pfizer-BioNTech se entstof teen ultra-lae temperature gestoor moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.