Sesde oorlewende uit China-gebou gered

ʼn Lugfoto wys reddingsbeamptes op die toneel waar ʼn ses verdieping hoë gebou in Changsha, China, ineengestort het (29 April 2022) (Foto: CNS/AFP/China Out)

Reddingswerkers het Sondag ʼn sesde oorlewende uit ʼn gebou, wat in China ineengestort het, gered. Die soek-en-reddingsoperasie duur al twee dae lank. Werkers is steeds op soek na talle persone wat steeds vermis word.

Die gebou in Changsha, Hunan, waar ʼn hotel, woonstelle en ʼn fliekteater geleë was, het Vrydagmiddag ineengestort.

Woordvoerders van die stadsraad het Saterdag gesê vyf oorlewendes is reeds uit die puin gered, maar 18 persone word nog vermis. ʼn Verdere 39 persone kon nog nie ná die voorval gekontak word nie.

Ná 50 ure se reddingspogings is ʼn vrou, die sesde oorlewende, Sondag uit die puin getrek, het die staatsuitsaaier CCTV berig.

Changsha-polisie sê nege mense, insluitend die gebou se eienaar en ʼn span veiligheidsinspekteurs, word Sondag aangehou oor die voorval. Hulle voer aan dat landmeters ʼn veiligheidsoudit van die gebou vervals het.

Die owerhede het nog nie ʼn oorsaak vir die ramp bekendgemaak nie.

Changsha se burgemeester het vroeër belowe dat alles in hul vermoë gedoen sal word om na mense te soek wat steeds in die puin vasgekeer is.

“Ons gryp die goue 72 ure vir redding aan en doen ons bes om na mense te soek wat steeds vasgekeer is,” het burgemeester Zheng Jianxin Saterdag tydens ʼn perskonferensie gesê. Hy sê meer as 700 nooddiensbeamptes is na die toneel ontplooi.

Pres. Xi Jinping het Saterdag ook versoek dat die soektog “ten alle koste” uitgevoer moet word. Hy eis ook ʼn deeglike ondersoek na die oorsaak van die ineenstorting.

ʼn Senior beampte van die Kommunisteparty is ook na die toneel ontplooi – ʼn teken van die erns van die ramp.

Geboue stort gereeld in China ineen weens swak veiligheid- en konstruksiestandaarde asook korrupsie onder beamptes wat ʼn oorsigtelike rol moet speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.