Seun (11) spring uit bus ná boeliery

Die nooddienste ná die voorval op Route 81 in Walton County. (Foto: Facebook)

’n 11-jarige seun van die Amerikaanse deelstaat Georgia het uit ’n venster van ’n skoolbus gespring om weg te kom van boelies.

Die seun het verlede Woensdag uit die venster van die stilstaande skoolbus in ʼn besige straat gespring. Hy het op die dak van ’n bakkie langs die bus te lande gekom voordat hy op die grond geval het. Sy elmboog is in die proses gebreek en hy het harsingskudding opgedoen.

Volgens die plaaslike verkeerspolisie het die seun uit die agtervenster van die skoolbus geklim en gespring toe die bus in Route 81 in Walton County by ’n verkeerslig stilgehou het berig The Telegraph.

Die kind het bo-op ’n stilstaande bakkie langs die bus geval voordat hy op die pad te lande gekom het. Hy is ná die voorval na ’n hospitaal geneem vir mediese behandeling.

Dion Murphy, die seun se pa, het intussen aan FOX 5 Atlanta gesê dié voorval volg ná maande se afknouery by Youth Middle School in die Walton County-skooldistrik.

Murphy het beeldmateriaal van die voorval onder oë gehad en sê een van die leerders op die skoolbus het “sy seun bespring” en hom “teen die venster vasgedruk” waarna sy seun geval het.

“Toe hy val, het ’n ander leerder sy skoen gegryp en in ʼn desperate poging om weg te kom van die boeliery, het hy uit die venster gespring.”

Die Walton County-skooldistrik het intussen aan The Independent gesê skool- en distriksamptenare is bewus van die aantygings van boeliery wat in verband met die voorval geopper is. “Die Walton County-skooldistrik duld geen boelies of teisterings van enige aard nie.”

Die skooldistrik het voorts gesê die aantygings word in ’n ernstige lig beskou en sal aandag kry.

Murphy het egter aan FOX 5 gesê dat hy al twee vergaderings met die skool belê het oor boeliery . Amptenare het volgens hom egter versuim om op te tree.

“Daar is meer [beeldmateriaal van die afknouery] en daarom is ek so ontsteld omdat die skool nagelaat het om iets aan die afknouery te doen… My seun kon sy lewe verloor het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Antoinette ·

Bie jammer vir daardie seun en sterkte vir hom en sy ouers. My kleindogter was net so geboelie in die laerskool. Ek was gereeld by die skool en elke keer is daar belowe deur die adjunk hoof, hy sal hulle ouers in roep. Net nooit gebeur nie en die boeliery het nie gestop nie. Want hulle was goeie rugby en krieketspelers asook mnr die adjunkhoof se witbroodjies. Tot ek eendag daar in gebars het by die skool en gese nou gaan ek polisie en onderwys department toe, toe kon die mnr hulle vinnig stop sit. Want dit is nie in die skool se belang dat die polisie en onderwysdepartement betrokke raak nie.

KB ·

Miskien moet mens by die boelies se ouers begin. Swak dissipline hét ‘n oorsaak. Sogenaamde “menseregte” staan ook nie onskuldig nie.

Moedeloos ·

Soms is dit kinders uit opgevoede huise. Die ouers weet nie eens hul kinders boelie ander nie. Dis asof die kind n chip op sy skouer dra by die skool en is almal se held maar by die huis is hy mamma se seuntjie/dogtertjie. Daarom moet ondersoek van klagtes by die skool begin sodat kind se gedrag eers daar ondersoek word.

Sandra ·

Die skool en die kinders moet aangekla word. As die kinders te jonk is moet hulle ouers aangekla word vir poging tot moord. Die skool boeliery word nou ‘n algemene ding. As die pa bewyse het, en hy was al vantevore bydi skool, moet die skool ook regtelik aangevat word.

Jr ·

Jy sien dit is altyd die owerhede is altyd bewis van boeiliery maar doen absoluut niks tot n kind dood is. Dan skielik iets doen. Elke kind wat kla moet aandag kry. Ons as groot mens is daar om kinders te help

VaalDonkie ·

Nee wat, skole en distrikte gee nie om nie. Hulle praat van hulle “duld dit glad nie”, maar dit gebeur maar nog altyd en niemand word ooit geskors nie. Gaan maak ‘n saak van aanranding by die polisie. En as die polisie nie wil nie, dan kry jy ‘n prokureur en dagvaar almal wat voorkom. Terloops: aanranding is aanranding en as die skool dit probeer toesmeer, dan kan hulle aangekla word van dwarsboming van die gereg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.