Seun só bang vir tandarts, hy jok oor ontvoering

Argieffoto

Argieffoto

ʼn 12-jarige van St Gervais in Frankryk was só bang om die tandarts te besoek, dat hy vir die polisie gejok het oor sy eie ontvoering.

Midi Libre berig die polisie het op 21 Mei gesien hoe die seun in die dorpie wegkruip. Hy het aangevoer hy is uit die nabygeleë dorpie, Bagnols, ontvoer op pad na sy tandartsafspraak.

Die seun het gesê ʼn man het by hom stilgehou om padaanwysings te vra voordat hy hom in sy motor gedwing en weggejaag het. Hy het gesê hy kon ontsnap toe die man in St Gervais gestop het.

Hy het die “ontvoerder” selfs in besonderhede beskryf. “Hy is ʼn sterkgeboude man in sy 30s,” het die seun gesê. “Hy het ʼn vertikale letsel op sy regterwang.” Volgens die seun het die man ook ʼn swart T-hemp en ligte denimbroek aangehad. Die polisie het die saak in ʼn baie ernstige lig beskou en dadelik begin ondersoek instel. Speurders het ʼn maand lank aan die saak gewerk voordat hulle agterdogtig geraak het oor die bewering.

Die ondersoekbeamptes het weer die kringtelevisiebeeldmateriaal van Bagnols bestudeer en toe vermoed iets is nie pluis nie.

Die seun is weer ondervra en hy het erken hy het die storie uitgedink omdat hy te bang was om na die tandarts te gaan.

Dit is nog nie duidelik watter stappe teen die seun gedoen sal word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.