Sewe dood in skietaanvalle by katedraal, Kersmark

Een van die vier slagoffers se liggaam word uit de katedraal gedra. Foto: ANA

Vier mense is dood nadat ʼn man op mense losgebrand het kort ná die middagmis in ʼn katedraal in die suide van Brasilië.

Die aanvaller het nog vier mense gewond voor hy self beseer is in ʼn geveg met die polisie en homself toe in die kop geskiet het, berig Sky News.

Die skietery het plaasgevind pas nadat die middagmis geëindig het in die Metropolitaanse Katedraal in Campinhas, sowat 100 km noord van São Paulo.

Enkele ure nadat paramedici die vier slagoffers se lyke uit die katedraal gedra het, is die aanvaller uitgeken as die 49-jarige Euler Fernando Grandolpho van die stad Valinhos, nie ver van São Paulo nie. Volgens die owerhede is hy nie lidmaat van die kerk nie.

Brasilië het gereeld die wêreld se grootste getal moorde per jaar; verlede jaar was dit sowat 64 000, maar massa-aanvalle soos dié in die katedraal kom selde voor.

Die land se aangewese president, Jair Bolsonaro, het beloof om toe te slaan op geweld deur onder meer wapenwetgewing te verslap sodat meer mense hulle kan bewapen.

Die polisie ondersoek een van die tonele naby die skietery in Straatsburg. Foto: ANA

Intussen het honderde polisiebeamptes in Frankryk opdrag gekry om te help soek na die aanvaller wat Dinsdagaand drie mense doodgeskiet en 12 gewond het in ʼn skietery naby ʼn gewilde Kersmark in die stad Straatsburg, berig die BBC.

Die verdagte het weggekom ná ʼn oor-en-weer-skietery tussen hom en soldate en gewapende polisiebeamptes. Die motief vir die skietery, waarin ses mense ernstig gewond is, is nog onbekend.

Volgens toeskouers het die middestad in ʼn “oorlogsgebied” ontaard.

Inwoners in die omgewing van die Kersmark is gevra om binne te bly terwyl die soektog na die skieter voortduur, berig De Volkskrant.

Frankryk se polisie benader die voorval as ʼn terreuraanval. Dit het omstreeks 20:00 begin in die middestad van Straatsburg. Volgens toeskouers het die middestad in ʼn “oorlogsgebied” ontaard toe polisie strate afgesper en gewapende wetstoepassers die strate ingevaar het.

Die Europese parlement, naby die toneel van die skietery, is net daarna gesluit en die sowat 2 000 werknemers daarbinne is versoek om nie die gebou te verlaat nie. Hulle is eers toegelaat om omstreeks 03:00 uit te gaan.

Volgens die Franse minister van binnelandse sake, Cristophe Castaner, word die landsgrense streng bewaak om te verseker dat die aanvaller nie landuit vlug voor hy aangekeer word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Donderstorm ·

En as die mense selfverdediging vuurwapens mag dra sal hul kan terug skiet en hul skrik op die lyf jaag en teminste meer mense se lewens spaar maar hul wil eerder dit weg vat om mens nog n groter “sitting duck” te maak.

Denise ·

Dit gaan net so rof met ons hier en so onodig onskuldige mense word vermoor die wereld vol hartseer saak die !!!

Rupert Ashford ·

Maroela, nou wat van my kommentaar het verwydering regverdig?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.