Sewe in hof ná onthoofding van Franse onderwyser

Samuel Paty, die vermoorde onderwyser. (Foto: Twitter)

Sewe mense verskyn Woensdag in ʼn hof in Frankryk in verband met die onlangse moord op die onderwyser Samuel Paty.

Paty (47) is Vrydag in die openbaar in Parys onthoof nadat hy karikature van die Moslemprofeet Mohammed in ʼn klas gewys het tydens ʼn gesprek oor vryheid van uitdrukking.

Paty se vermeende moordenaar is ʼn 18-jarige Tsjetsjniër wat in Moskou gebore is. Hy is kort ná die moord deur die polisie doodgeskiet.

BBC berig twee minderjariges asook ʼn ouer van een van die leerders wat glo boodskappe met die vermeende moordenaar uitgeruil het, is onder diegene wat vandag in die hof sal verskyn.

Paty is voor sy dood onderwerp aan ʼn aanlyn haatveldtog nadat hy die karikature aan die klas gewys het. Die veldtog is na bewering deur die pa van een van die leerders van stapel gestuur. Die pa het boonop voor die aanval glo ook boodskappe na Paty se vermeende moordenaar gestuur.

Die twee minderjariges wat in die hof sal verskyn, word op hul beurt daarvan verdink dat hulle geld ontvang het in ruil vir inligting oor Paty.

Altesaam 16 mense is reeds aangekeer in verband met die moord. Nege van hulle is reeds vrygelaat.

Die Franse polisie het sedertdien op 40 huise, glo dié van Islamiste, toegeslaan.

Die Franse regering het voorts beveel dat ʼn moskee vir ses maande moet sluit. Die betrokke moskee, net noord van Parys, is gesluit nadat dit video’s op Facebook gedeel het waarin optrede teen Paty geëis word.

Die moskee het intussen sy spyt uitgespreek oor die video’s. Hy het die video’s van sy platform verwyder en die moord op Paty veroordeel.

Die Franse president, Emmanuel Macron, het Dinsdag gesê die Sheikh Yassin Collective – ʼn Islamitiese groep wat genoem is na die stigter van die Palestynse militêre groep Hamas – sal ook nou verbied word aangesien dié groep “regstreeks betrokke was” by die moord op Paty.

Volgens Macron is die verbod ʼn manier om die Moslemgemeenskap in Frankryk teen die invloed van radikalisme te beskerm.

Die moord word deur Franse hooggeplaastes as ʼn “Islamitiese terreurdaad” bestempel.

Frankryk se hoogste toekenning, die nasionale orde van die erelegioen, oftewel die Légion d’Honneur, sal Woensdag postuum aan Paty toegeken word. Paty sal ook in ʼn nasionale seremonie van die Sorbonne-universiteit in Parys herdenk word, berig France24.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anel ·

Dis nogal jammer dat ons nie so drasties teen moord groepe kan optree nie, soos EFF nie. En in hierdie geval is net 1 onderwyser vermoor. Hier word honderde mense vermoor, daagliks en geen op trede nie.

Sokrates ·

Hierdie moord is n simptoom van die groter probleem waarmee Europa nou al geruime tyd te kampe het….. n instroming van mense wie se kultuur en denke hiegenaamd nie noodwendig dié van Vryheid, Gelykheid en Broederskap soos verstaan deur die Franse, omarm nie……. die uitnodigende, verwelkomende en oop benadering van n liberale en beskaafde Europa baar al hoe meer voorvalle van naakte haat en n militante agenda van sekere groepe…… As Europese lande hul unieke karakter en lewenswyses wat eens van hulle sulke gesogte reisbestemmings gemaak het, wil behou, sal hul hard moet nadink……

nell ·

Gevalle soos dié gaan voornemend al hoe meer plaasvind. Toe daar destyds gewaarsku is dat migrasie uit Moslemlande tot groot probleme kan lui het Europa haar nie daaraan gesteur nie, want die nuwelinge sou mos vinnig die liberaal-individualistiese waardes van die Westerse beskawing aanvaar en soos die Europeërs tot die besef kom dat godsdiens eintlik tot die bygelowe van die verlede behoort… Maar toe nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.