Sewe mense dood in huis gevind

Die huis in Minnesota waar die sewe familielede dood gevind is. (Foto: CBS)

Owerhede in Minnesota is stomgeslaan nadat sewe mense dood in ʼn huis in dié Amerikaanse deelstaat gevind is. Die oorledenes is almal familie van mekaar.

Volgens die polisie is die liggame van vier volwassenes en drie kinders Saterdagaand in die huis in Moorhead gevind. Dit polisie het nie die oorsaak van hul dood bevestig nie, maar luidens berigte is gesinslede in hul slaap dood weens gasvergiftiging.

“Die oorledenes is net voor 20:00 deur ʼn familielid aangetref wat by hul huis aangedoen het. Die familielid het die polisie gebel,” berig CBS.

Daar was geen teken van geweld of geforseerde toegang tot die huis nie. “Die polisie ondersoek steeds die geval, maar daar blyk geen gevaar vir die publiek te wees nie,” het polisiebeamptes gesê.

Volgens die mense se bure het hulle die kinders Vrydag nog gesien. Die kinders was leerders aan ʼn laer‑ en hoërskool in Moorhead en beraders is Maandag beskikbaar gestel om lede van die skoolgemeenskap by te staan, die New York Post.

Shelly Carlson, burgemeester van Moorhead, het die gebeure as ʼn “absolute tragedie” beskryf, veral aangesien dit so naby aan Kersfees plaasgevind het. “My hart breek vir die familie en vriende van die oorledenes. Ons gemeenskap rou saam met hulle in hierdie hartseer tyd.”

ʼn Nadoodse ondersoek sal nou gedoen word om die presiese oorsaak van die oorledenes se dood te bepaal. Die polisie sal meer inligting oor die saak bekend maak soos die ondersoek vorder.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.