Sewe sterf in aanval op Shell-werkers in Nigerië

Shell (Argieffoto)

Minstens sewe mense is dood in ʼn aanval op ʼn konvooi wat werkers na ʼn Shell- olie-en-gasaanleg in Nigerië se suidooste vervoer het, het die polisie Woensdag gesê.

Geen groep het tot dusver aanspreeklikheid aanvaar vir Maandag se aanval nie. Die suidooste van Nigerië beleef egter sedert die begin van die jaar ʼn vlaag dodelike aanvalle wat sekuriteitspersoneel en staatsfasiliteite teiken.

Die polisie het vroeër die separatistegroep Inheemse Mense van Biafra (IPOB) vir die geweld blameer. Dié onwettige groep streef na onafhanklikheid vir etniese Igbo-mense van die streek, maar die groep ontken die beskuldiging.

Michael Abatan, woordvoerder vir die polisie, het aan AFP gesê skieters het op die konvooi busse losgebrand wat na ʼn Shell-aanleg in die gebied op pad was.

“Ons het ʼn polisiebeampte en ses oliewerkers verloor,” het hy gesê. Volgens hom is ʼn ondersoek van stapel gestuur na die aanvallers en om die motief vir die aanval te bepaal.

SPDC, die Nigeriese filiaal van Shell, het die aanval “deur onbekende skieters” bevestig. Die perseel is in die Ohaji-gebied geleë. “Ons het intussen die perseel gesluit.”

Aanvalle op olie- en gasaanlegte deur militante wat ʼn groter aandeel wil hê in Nigerië se olieskatkis vir die mense van die Niger-delta het gereeld voorgekom tot ʼn amnestieooreenkoms in die 2000’s aangegaan is.

Maandag se aanval kom op dieselfde dag wat pres. Muhammadu Buhari ʼn nuwe energiewet bekragtig het wat ten doel het om ʼn beter raamwerk aan oliemaatskappye te verskaf vir belegging en werk in Nigerië. Die wet wil ook aan die eise van plaaslike gemeenskappe voldoen, alhoewel sommige gemeenskapsleiers sê daar is nog nie genoeg gedoen om die gemeenskappe te laat deel in die inkomste uit olie wat uit hul grond onttrek word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.