Sewe sterf in chaos naby Kaboel-lughawe

Mense klou aan ‘n vliegtuig by die Kaboel-lughawe in ‘n desperate poging om landuit te vlug (Augustus 2021) (Foto: Wakil Kohsar/AFP)

Sewe Afghaanse burgers is dood in chaos naby die Kaboel-lughawe, het die Britse ministerie van verdediging Sondag gesê terwyl duisende mense steeds poog om uit die land te vlug.

Die VSA en sy vennote sukkel om die groot getalle mense te hanteer wat met ontruimingsvlugte uit die land probeer kom in die week sedert die Taliban beheer oorgeneem het in Afghanistan.

“Toestande op die grond is uiters problematies maar ons doen alles in ons vermoë om die situasie so veilig as moontlik te bestuur,” het ʼn woordvoerder van die ministerie gesê.

Ben Wallace, Britse sekretaris van verdediging, het Sondag aan ʼn Britse koerant gesê “geen land sal almal kan uitkry” voor die Amerikaanse sperdatum van 31 Augustus nie. “Miskien sal die Amerikaners toegelaat word om langer te bly en hulle sal ons absolute ondersteuning hê as hulle dit doen,” het hy gesê.

Die VSA het intussen Sondag verskeie groot Amerikaanse lugrederye betrek om duisende Afghane en uitlanders uit Kaboel te ontruim.

Die Pentagon het gesê Lloyd Austin, sekretaris van verdediging, het die Siviele Reserwe Lugvloot (CRAF), wat selde gebruik word, ontplooi om die beweging van mense wat by Amerikaanse basisse in die Midde-Ooste aankom, aan te help.

Agtien siviele vliegtuie van American Airlines, Atlas, Delta, Omni, Hawaiian en United sal bystand lewer vir militêre vragvervoer in die ontruiming.

Die vliegtuie sal mense van Amerikaanse basisse in Katar, Bahrain en die Verenigde Arabiese Emirate na Europese lande vervoer en talle van daar af na die VSA.

Met duisende troepe wat poog om Kaboel se lughawe te beveilig, het Washington ʼn sperdatum van 31 Augustus opgestel om een van die grootste ontruimings af te handel.

Tot 15 000 Amerikaners moet uit Afghanistan verwyder word, aldus pres. Joe Biden, wat sê sy administrasie wil ook minstens 5 000 Afghaanse vennote en hul families uit die land kry.

Die Amerikaanse regering het Saterdag sy burgers gewaarsku om van die lughawe af weg te bly oor “sekuriteitsdreigemente”. Die Pentagon het Saterdag gesê sowat 17 000 mense is reeds sedert 14 Augustus uit die land ontruim. Meeste is na Katar of Koeweit geneem. Dit sluit 2 500 Amerikaners in.

Die CRAF is nog net twee keer geaktiveer: om troepe vir die 1990-91 Golfoorlog te vervoer en weer in die 2002-2003 Irak-inval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Anel ·

En hoeveel van hulle is nie Taliban wat vermom is as vlugtelinge die land verlaat om in die nuwe land amok te gaan maak nie. Want soos dit vir my lyk kan enige een wat sê hy vlug kan hy maar ‘n vliegtuig klim en hulle word nie nagegaan nie. Hier kom nog groot moeilikheid. En ons het gedink die presidente in ons land is dom! Ou Biden vat die koek, dink ek.

Frikkels ·

En so befongfaai die sogenaamde regdenkendes of liberaliste, alle goeie dinge wat wêreldwyd deur die konserwatiewes opgebou is. As daar niks meer oorbly nie, dan kruip hulle terug in hulle verrotte doppe en wag vir die konserwatiewes om alles weer te herstel sodat hulle maar weer uit hulle gate kan kruip en alles van voor af opvoeter.????????

Kobie ·

Kan jy miskien verduidelik wat jy bedoel met die “goeie dinge wat wêreldwyd opgebou is”

Drieka ·

Die sogenaamde konserwatiewes was net so sleg soos die wat hul vervang het. Hulle was vir 20 jaar in Afghanistan. Die enigste wat biljoene dollar se profyt gemaak het was groot wapenmaatskappye en oud militere en politieke leiers wat toutjies getrek het vir toekenning van tenders. Die morele redes vir hulle okkupasie wat aan normal burgers opgedis is, was net om ware agenda te verskuil.

TO ·

Al hierdie sterftes moet gelê word oor Biden se deur. Hy en sy korrupte regering het Afganistan se mense uitverkoop aan terroriste

dada ·

Ek begin al hoe meer wonder wat is die punt van die Taliban? Wat is die punt om die leiers van ‘n land te wees as niemand hulle as leiers wil hê nie? Hoeveel mense gaan in Afghanistan agterbly?

Drieka ·

Verstaan nie hoe Biden eers sy soldate ontruim maar los Amerikaanse burgers agter. Ook al die wapens wat “black hawk” helikopters en nagvisie brille insluit, met waarde van etlike biljoene dollar wat netso agtergelaat is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.