Sewe sterf in VK weens bloedklonte ná AstraZeneca-inenting

(Foto: Justin Tallis/AFP Photo)

Die mediese reguleerder in die Verenigde Koninkryk het Saterdag gesê van die 30 persone wat bloedklonte ontwikkel het ná hulle die Oxford-AstraZeneca-inenting ontvang het, het sewe gesterf.

Die Britse erkentenis van die sterftes kom terwyl verskeie Europese lande die gebruik van die AstraZeneca-entstof opgeskort het oor ʼn moontlike verband met bloedklonte.

Die reguleringsagentskap het in ʼn verklaring gesê “uit die 30 berigte tot en met 24 Maart het sewe ongelukkig gesterf”.

Nederland het Vrydag AstraZeneca-inentings opgeskort vir mense jonger as 60 ná vyf nuwe gevalle onder vroue – van wie een gesterf het. Duitsland het vroeër vandeesweek ʼn soortgelyke besluit geneem.

Die Europese Medisyne-agentskap (EMA), wat vroeër, net soos die Wêreldgesondheidsorganisasie die AstraZeneca-inenting veilig verklaar het, sal na verwagting op 7 April ʼn aankondiging maak oor die kwessie. Die EMA het Woensdag volgehou die entstof is veilig en dat kenners geen spesifieke risikofaktore, soos ouderdom, geslag of mediese geskiedenis kon vind nie.

Die VK-reguleerder het gesê die 30 gevalle van trombose, wat deur dokters of lede van die publiek deur ʼn regeringswebwerf aangemeld is, kom ná 18,1 miljoen dosisse van die entstof reeds in die land toegedien is. Meeste van die gevalle (22) was serebrale sinustrombose, ʼn seldsame toestand wanneer ʼn bloedklont in die brein vorm. In agt sake het mense trombose en lae vlakke van bloedplaatjies ondervind, wat bloed help om te stol.

Daar was geen berigte van bloedklonte van die Pfizer/BioNTech-entstof nie, het die organisasie gesê. “Ons deeglike hersiening van dié verslae duur voort.”

Volgens die reguleerder se webwerf weeg die voordele van die entstof teen Covid-19 “swaarder as enige risiko”.

AstraZeneca het verlede maand, ná doeltreffendheidsproewe in die VSA, gesê sy entstof is 79% doeltreffend om die siekte te voorkom en verhoog nie die risiko vir bloedklonte nie.

Die Verenigde Koninkryk het meer as 31 miljoen eerste dosisse entstof toegedien en die Oxford-AstraZeneca en Pfizer-BioNTech-entstof gebruik. Mense kan nie kies watter een hulle wil hê nie.

Die VK het in Junie 2020 altesaam 100 miljoen dosisse van die Oxford-AstraZeneca-entstof bestel en die ontwikkeling daarvan ondersteun. Hy het verlede jaar ook 30 miljoen dosisse van die Pfizer-BioNTech-entstof bestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Dis nou wat gebeur as jy nie toets en toets en toets en toets, partykeer oor jare.

SomeOne

dis dalk ‘n goeie besluit om die inenting aan iemand anders te gee

NEO

Wie weet watter ander newe efekte daar nog is. Ek wil weer vra – hoe kan dieselfde dosis vir alle mense gegee word sonder om persone se onderliggende mediese toestande en die kroniese medikasie wat hul gebruik in ag te neem.

Nie Verbaas

WGO se dan die bloedklont storie is bog.

Pieter

Sal nog sien wat gaan die reaksies wees in mense met die ander entstowwe oor ‘n jaar of wat.