Sewe vermis ná sneeustorting

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Malcolm Foster, AP)

Vier bergklimmers van Suid-Korea en drie plaaslike gidse word reeds dae lank vermis ná ’n sneeustorting op ’n berg in die Himalaja-bergreeks in die noordweste van Nepal.

Die sewe mense was naby ’n basiskamp in die Annapurna-streek toe die sneeustorting Vrydag ná swaar sneeuval en reën plaasgevind het.

BBC berig die sneeustorting het op ʼn hoogte van 3 230 m bo seevlak ongeveer 150 km noordwes van die hoofstad Katmandu plaasgevind. Verskeie ander klimmers in die area kon ná die storting gered word.

Volgens The Times is sowat 200 klimmers sedertdien uit die area verwyder terwyl die soektog na die vermiste klimmers voortduur.

Die Suid-Koreaanse departement van buitelandse sake het die bergklimmers as twee vroue, onderskeidelik in hul 30’s en 50’s, en twee mans, in hul 50’s, identifiseer. Dié slagoffers is onderwysers wat tans in Nepal woon en vrywilligerswerk doen.

Vyf ander Suid-Koreaanse lede van dieselfde groep wat saam geklim het, kon daarin slaag om skuiling in ’n lodge te vind voordat hulle met behulp van ’n helikopter na veiligheid gebring is.

Die Suid-Koreaanse president, Moon Jae-in, het intussen in ’n verklaring gesê sy regering sal alles in sy vermoë doen om die vermiste klimmers op te spoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.