Siamese tweeling huis toe ná skeiding

Riley en Heather saam met Erin en Abby (Foto: Facebook)

ʼn 15 maande oue Siamese tweeling van Pennsilvanië in die VSA is vandeesweek uit ʼn kinderhospitaal in dié deelstaat ontslaan nadat hulle in Junie vanjaar ʼn 11 uur lange skeidingsoperasie ondergaan het.

Die dogtertjies, Erin en Abby Delaney, is op 24 Julie 2016 gebore en was aan hul koppe geheg. Hulle het sedert dié lewensveranderende operasie in Junie vanjaar talle terugslae gehad en moes verskeie operasies ondergaan om te verseker dat hulle ten volle kan herstel. Dokters het in ʼn stadium vir Abby se lewe gevrees.

Dr. Greg Heuer, die neurochirurg wat aan die hoof van die span was wat die skeidingsoperasie gedoen het, het hulle herstelproses as “wonderlik” beskryf.

“Die operasie was baie gevaarlik en dit het minstens twee maande geneem om te beplan. Ná die operasie het hulle aanvanklik ʼn klomp terugslae gehad, maar hulle het daarna merkwaardig herstel,” het hy gesê.

Riley en Heather, die tweeling se ouers, het gesê hulle dogters is ʼn inspirasie vir hulle én duisende ander. “Dit is wonderlik om te sien hoe hulle hierdie struikelblokke oorkom,” het Heather in ʼn verklaring gesê. “Ons kan nie wag om te sien wat die toekoms vir hulle inhou nie. Ek en Riley is baie opgewonde om ons dogtertjies uiteindelik huis toe te neem – net betyds vir die Kersvakansie.”

Heuer sê die dogtertjies sal in die toekoms weer ʼn operasie moet ondergaan, maar dat hy in dié stadium baie optimisties is oor die toekoms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lucille ·

Baie geluk met hierdie wonderwerk! Mag God hierdie kindertjies seen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.