Siektes in Sierra Leone gevrees ná talle in modderstortings sterf

Liggame van die slagoffers van die modderstortings in Sierra Leone word weggedra Foto: Xinhua/Chen Cheng

ʼn Uitbreking van malaria en cholera word in Sierra Leone gevrees ná meer as 500 persone verlede week dood is in modderstortings.

Die Verenigde Nasies en die regering in Sierra Leone werk saam om enige uitbrekings te voorkom.

“Die modderstortings het reeds talle sterftes tot gevolg gehad en ons moet nou alles in ons vermoë doen om die samelewing teen verdere gesondheidsrisiko’s te beskerm,” het Alexander Chimbaru, beampte aan die hoof van die Wêreldgesondheidsorganisasie in Sierra Leone, Maandag in ʼn persverklaring gesê.

Sama Banya, bekende bewaringskundige in Sierra Leone, het in 2014 tevergeefs ʼn beroep op pres. Ernest Bai Koroma gedoen om die Wet op Nasionale Beskermingsgebiede toe te pas en geboue wat op beskermde gebiede opgerig is, af te breek, en bome te plant om dié te vervang wat afgekap is.

Die VN bied gesondheidsdienste in die betrokke gebiede en maan inwoners om voorsorg te tref deur hul hande te was, en slegs gekookte of behandelde water te drink en aan higiëniese praktyke te voldoen.

Met skade aan water- en sanitasiegeriewe, is inwoners van betrokke gebiede veral vatbaar vir uitbrekings van aansteeklike siektes soos malaria en diarree-siektes soos tifus en cholera.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

E.K. - ek sê net! ·

As mens kyk waar daardie geboue opgerig is en hoe die bome wat grond moet “vashou” net afgekap word dan is mens nie eintlik verbaas die dinge gebeur nie. Lees derdelaaste paragraaf – ek dink die Sama Banya moet wyd en syd verkondig “I told you so…”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.