Sikloon Debbie: Dakke afgeruk; bote, haai op land

ʼn Bulhaai het naby Ayr, suid van Townsville, in ʼn straat uitgespoel. Foto: Twitter via @QldFES

Die noordoostelike deel van Australië is steeds besig om te herstel nadat ʼn sikloon die kus van Queensland Dinsdag getref het.

Die sikloon wat die kus met winde van tot 260 km/h getref het, het wydverspreide skade aangerig en onder meer huise se dakke afgeruk, bote teen rotse geslinger en bome omgewaai. Verskeie paaie is gesluit. Die sikloon het vinnig verswak namate dit oor die binneland beweeg het en is teen Woensdagoggend tot ʼn tropiese storm afgegradeer.

Niemand het in die sikloon omgekom nie.

CNN berig ʼn bulhaai het naby Ayr, suid van Townsville, in ʼn straat uitgespoel. Volgens die berig het nooddienswerkers op die dooie haai afgekom en foto’s daarvan op Twitter gedeel met ʼn waarskuwing dat mense uit die vloedwater moet bly.

Foto: Dan Peled/AAP Image via AP

Die Australiese weermag het voertuie en bote gestuur om voorraad na inwoners te neem waar die paaie deur puin afgesper is en waar kommunikasiestelsels afgesny is. Ongeveer 60 000 huise is sonder elektrisiteit gelaat.

Annastacia Palaszczuk, Queensland se premier, het gesê die idilliese Whitsunday-eilande, ʼn gewilde toeristebestemming, het ernstige skade gely. Ongeveer 200 mense wat op die Daydream Island vakansie gehou het, moes die eiland verlaat.

By die Shute-hawe, 10 km oos van Airlie Beach, is 30 bote teen die rotse geslinger.

Queensland is bekend vir sy produksie van suikerriet en ʼn wye verskeidenheid vrugte en groente en daar is kommer dat die storm aansienlike skade aan die gewasse aangerig het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Paul ·

Leeukuil is wel korrek om die vraag te vra, want hoewel dit ‘n “bull shark” is in Engels, is ek ook slegs van die Afrikaanse naam as Zambezihaai bewus.

Verop ·

“They have been known to travel as far up the (Mississippi) river as Illinois”

Sharkie ·

So lyk my die sharks speel net met 14 manne die naweek…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.