Sikloon Idai: Cholera-gevalle verdubbel byna daagliks

Die mediese fasiliteite wat opgerig is. (Foto: Twitter/ WGO)

Die eerste sterfte weens cholera ná sikloon Idai is in Beira in Mosambiek bevestig nadat die aantal gevalle binne ʼn kwessie van 24 uur byna verdubbel het.

Die BBC het Maandag berig meer as 500 gevalle van cholera is in Beira aangemeld nadat die sikloon dié hawestad verlede maand getref het.

Sikloon Idai was een van die dodelikste storms wat dié suidoostelike Afrika-land in dekades getref het en nedersettings is volledig deur vloedwater meegesleur. Die sikloon het Beira op 14 Maart getref voordat sterk wind en swaar reën na Zimbabwe en Malawi uitgebrei het.

ʼn Totaal van 271 gevalle van cholera is teen Saterdag aangemeld, maar teen Sondag het dié syfer byna verdubbel tot ʼn totaal van 517 gevalle, het Ussene Isse, die nasionale direkteur vir mediese bystand in Mosambiek, op openbare televisie gesê.

ʼn Groot inentingsveldtog is intussen van stapel gestuur om dié siekte onder beheer te bring.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het gesê dat minstens 900 000 entstofdosisse hierdie week in die hawestad sal aankom.

Die organisasie het ook Sondag op sy webwerf aangekondig dat nege mediese fasiliteite noodgedwonge op die been gebring en 30 gesondheidswerkers opgelei word om te help met die behandeling van cholera-pasiënte. Dié fasiliteite beskik oor 500 beddens en teen Sondag was 124 pasiënte reeds in dié fasiliteite opgeneem.

Maroela Media het vroeër berig die internasionale federasie van die Rooikruis en Rooikruisverenigings (IFRC) was kort ná sikloon Idai bekommerd oor gesondheidsrisiko’s.

“Siektes kan toeneem ná ʼn ramp soos dié weens besoedeling van watervoorsiening. Dit kan uitbrekings van virale gastro-enteritis, hepatitis, cholera en ander siektes tot gevolg hê,” het Jamie LeSueur, die leier van reddingspogings van die IFRC in Beira, verlede maand gesê.

Cholera word versprei deur menslike afval in die watervoorsiening.

Die BBC het verduidelik dat die vloedwater self nie ʼn risiko vir cholera inhou nie, maar drinkwater is wel as gevolg van oorstromings gekontamineer wat tot die epidemie gelei het.

Volgens die jongste statistieke wat deur die Mosambiekse Nasionale Rampbestuursinstituut (INGC) uitgereik is, het sowat 518 mense as gevolg van Idai omgekom.

Sowat 1,8 miljoen mense is sonder elektrisiteit of lopende water gestrand gelaat in gebiede waar huise meegesleur en paaie deur oorstromings vernietig is, het die BBC gesê.

Volgens dié mediahuis is byna 90 000 sonder heenkome gelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sê maar net ·

Hier by ons is ook ‘n soortgelyke geval…Klinieke en daghospitale is oorvol, oumensies wat nie mediese fonds het nie, moet in lang rye gaan staan om hul medikasie te kry. Dit raak winter, oumense het nie die weerstand nie, raak siek en dan is daar amper nie ‘n bed in ‘n hospitaal vir hulle nie. En dit oor hier duisende onwettiges in Wes kaap instroom en hulle sit ook om behandel te word by die klinieke en hulle kry behandeling. Sien die nood hier ook raak seblief

Ellisras ·

Geagte Mosambiekse Regering en burgers van Mosambiek. Suid-Afrika het onvoorwaardelik miljoene bestee aan hulp.
Al wat ons vra is los ons renosters uit. Asb.

Hanna Hoekom ·

Ek neem an die blankes gaan ook hiervoor geblameer word: dis mos die “witmense” wat die sikloon in die eerste plek veroorsaak het, dan nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.