Sikloon Idai: Liggame dryf glo van Zim tot in Mosambiek

Skade wat deur sikloon Idai in Zimbabwe aangerig is. (Foto: Alpha Media Holdings/The Standard/ANA)

Die amptelike dodetal in Zimbabwe ná sikloon Idai staan tans op 139, terwyl liggame na bewering tans van dié Afrika-land met riviere langs tot in Mosambiek dryf.

Owerhede is sowat ʼn week ná die verwoestende sikloon bekommerd dat die sterftesyfer verder kan styg met soveel as 200 mense wat nog vermis word en meer as 100 mense wat gestrand gelaat is in Chipinge en Chimanimani.

Volgens amptelike syfers wat Donderdag deur die inligting-, media- en uitsaaidiensbediening uitgereik is, is daar tot dusver 127 sterftes in Chimanimani en ses in Chipinge aangeteken.

In Chimanimani word 187 mense vermis en 136 mense is gestrand terwyl twee mense in Chipinge vermis word en drie in dié dorp gestrand gelaat is.

Chimanimani is die Zimbabwiese dorp wat die hardste deur Idai getref is en dit is hier waar die meeste inwoners dakloos gelaat is gevolg deur Makoni, Buhera, Mutare en Mutasa.

Inwoners van Beira, Mosambiek kyk na dit wat oorgebly het van hul huise nadat sikloon Idai die gebied getref het [15 Maart 2019]. (Foto: Denis Onyodi/IFRC via AP)

Julie Moyo, die plaaslike minister van behuising asook die hoof van die interministeriële taakmag met betrekking tot Idai, sê luidens berigte dryf daar ook liggame van Zimbabwe tot in Mosambiek. “Van die liggame het al tot in Mosambiek gedryf. Mense in Mosambiek het van ons mense gebel en gesê: ‘Ons sien liggame, ons glo die liggame kom van Zimbabwe af’.” Die minister vertel dat dié liggame tot soveel as 100 kan wees. “Sommige gaan so ver as om te sê daar kan 300 liggame wees, maar ons kan dit nie bevestig nie.”

Die plaaslike weermag is op pad na Rusitu om die ware stand van sake te bepaal, het Moyo gesê.

Hulp stroom van alle oorde vir die slagoffers van sikloon Idai in.

Die Rooikruis en die Federasie van die Rooikruis en Rooikruisverenigings (IFRC) het gister aangekondig dat reaksie-eenhede vir water en sanitasie in Beira in Mosambiek ontplooi is. Die eerste eenheid sal basiese sanitasiegeriewe aan 20 000 mense verskaf, het IRFC in ʼn verklaring gesê.

Die tweede eenheid sal tot 225 000 liter skoon water per dag voorsien – genoeg vir 15 000 mense.

Dié eenhede sal oor die volgende paar dae in die land aankom, terwyl die nodige toerusting daarvoor vroeg volgende week in Beira sal aankom, lui die verklaring. Dit word gedoen om siektes weens waterbesoedeling te voorkom.

ʼn Derde noodreaksie-eenheid wat ontwerp is om die komplekse logistiek van só ʼn groot operasie te bestuur, is ook deur die Switserse Rooikruis ontplooi.

Ook Sasol het gister aangekondig dat hy $250 000 Amerikaanse dollar (sowat R3 556 975) skenk vir die verligting en ondersteuning van gemeenskappe wat swaar getref is deur Idai in Beira en Dondo in die Sofala-provinsie van Mosambiek.

Dié fondse sal ook versprei word na ander gebiede in die Inhambane-provinsie van die land.

IFRC en die plaaslike Rooikruis beplan verder om aandag te gee aan die massiewe skuilingbehoeftes wat deur die tropiese sikloon en oorstromings veroorsaak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

PieterJohannes ·

Ek wonder wie kan onthou van die vorige oorstromings wat Mosambiek getref het, toe die Suid-Afrikaanse Lugmag tesame met privaat vliegtuie gaan help het met redding, kos en humanitêre ondersteuning. Dit lyk nie of daar nou juis veel hulp van Suid-Afrika se kant af kom nie. Nogal ironies dat daar baie meer hulp gegee is voordat regstellende aksie so fel toegepas is. Ek sou graag wou weet wat die destydse begroting beloop het. Toe was daar reserwe finansies beskikbaar. Nou lyk dit maar droefgeestig.

Roger ·

Tragies…wonder of die 1ste Wêreld Media ook hieroor berig lewer?

waarheid ·

Ek onthou dit Pieter Johannes….Vir party mense is geld belangriker as lewens – kyk maar net na S A regering met al die korrupsie – nou sit ons in die donker en hulle het die geld.
Niemand gaan tronk toe nie – so dis ok met hulle.
Dit is waarom S A nie te veel doen om die drenkenlinge te help nie. Geld eerste.

PieterJohannes ·

Ja dit is baie waar. Ons moet bid dat so ‘n ramp ons nie tref nie. Ek glo nie ons Ambulans dienste, Polisie, Weermag en Lugmag is meer in staat om soiets te hanteer nie. Jy sal plundery en anargie sien soos nog nie gesien is nie. En wie sal dit ontgeld? Die minderhede wat alreeds die teiken is.

Adri ·

Ek stem saam met Pieter Johannes, so ‘n sikloon sou ons regering nie kon hanteer nie. Ek hoop nie Zim of Lesotho val ons ooit aan nie want ons weermag se bande is pap. Vir my lyk dit of slegte natuurlike dinge die aarde tref die laaste drie jaar. Vir my lyk dit of die eindtyd soos voorspel in die Bybel nader is as ooit tevore. Vir my lyk dit of dit sommer om die draai is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.