Sikloon Idai: Omvang van krisis nog nie bepaal

‘n Pad wat beskadig is in Beira, Mosambiek nadat sikloon Idai die gebied getref het [15 Maart 2019]. (Foto: Denis Onyodi/IFRC via AP)

Die volle omvang van die humanitêre krisis in Mosambiek ná sikloon Idai kan steeds nie bepaal word nie, het die internasionale federasie van die Rooikruis en Rooikruisverenigings (IFRC) Dinsdag gesê.

Met berigte dat minstens 400 000 mense in Sentraal-Mosambiek dakloos gelaat is, het die IFRC gewaarsku dat dit dae kan neem voordat die volle omvang van die “humanitêre ramp” duidelik sal word.

Sikloon Idai was een van die dodelikste storms wat dié suidoostelike Afrika-land in dekades getref het en nedersettings is volledig deur vloedwater meegesleur. Die sikloon het Beira, ʼn hawestad aan die Indiese Oseaan, Donderdag laat getref voordat die sterk winde en swaar reën na Zimbabwe en Malawi beweeg het.

Daar word vermoed dat die dodetal in Mosambiek soveel as 1 000 kan wees. Ongeveer 90% van Beira is vernietig. Sowat 89 mense is ook in Chimanimani in Zimbabwe dood toe riviere oorstroom het en mense by paaie en brûe afgespoel is.

Jamie LeSueur, die leier van reddingspogings vir die IFRC in Beira, het die ramp as “die ergste humanitêre krisis in Mosambiek se geskiedenis” bestempel.

Mense dra hul persoonlike besittings deur die vloedwater in Beira, Mosambiek nadat sikloon Idai die gebied getref het [15 Maart 2019]. (Foto: Denis Onyodi/IFRC via AP)

“Dit is ʼn humanitêre ramp vir die mense van Sentraal-Mosambiek. Groot dele van Beira is verwoes en nedersettings en dorpe is heeltemal oorstroom.

“Reddingswerkers is besig om mense wat op dakke en bome vasgevang is, na veiligheid te bring. Baie, baie gesinne het alles verloor,” het LeSueur gesê.

LeSueur het verder gesê vloedwater is meters diep in sommige gebiede naby die Buzi- en- Pungwerivier. Soveel só dat die vloedwater huise, telefoonpale en bome heeltemal bedek.

“Die omvang van die lyding en verlies is nog steeds nie duidelik nie en ons verwag dat die aantal mense wat hierdeur geraak word sowel as die aantal mense wat hul lewens verloor het, kan styg,” het LeSueur gesê.

Die IFRC en die plaaslike Rooikruis het Dinsdag ʼn noodversoek vir 10 miljoen Switserse frank (sowat R145 miljoen) gerig om 75 000 mense wat die ergste deur die ramp geraak word, te ondersteun. Die noodfondse sal hoofsaaklik vir skuiling, water en sanitasie aangewend word.

Spanne van dié humanitêre organisasie het ook skuilingvoorraad aan gesinne in Beira uitgedeel.

Inwoners in Beira, Mosambiek probeer van hul besittings uit die vloedwater red nadat sikloon Idai die gebied getref het [15 Maart 2019]. (Foto: Denis Onyodi/IFRC via AP)

“Bykomende voorraad vir minstens 3 000 gesinne word deur middel van ʼn skip van die Franse Rooikruis by Réunion-eiland ingebring. Vrywilligers van die organisasie in Beira verskaf ook chloor sodat mense water kan suiwer,” het LeSueur gesê.

Hy het verduidelik hulpwerkers is bekommerd oor gesondheidsrisiko’s.

“Siektes kan toeneem ná ʼn ramp soos dié weens besoedeling van die watervoorsiening. Dit kan uitbrekings van virale gastro-enteritis, hepatitis, cholera en ander siektes tot gevolg hê,” het hy gesê.

Malaria is endemies tot Mosambiek en gevalle word veral gedurende die reënseisoen van Desember tot April aangemeld. Die onlangse oorstromings kan lei tot groot poele stilstaande water wat ideale broeiplekke vir muskiete kan word.

Die internasionale komitee van die Rooikruis (ICRC) is ook betrokke en help om gesinne wat deur die sikloon van mekaar geskei is te herenig óf om vermiste persone te registreer.

Die humanitêre komitee het ook ʼn forensiese spesialis ontplooi om die massas liggame op ʼn waardige wyse te bestuur. Die komitee het ook brandstof aan die Beira-hospitaal geskenk om te verseker dat dié noodsaaklike gesondheidsfasiliteit elektrisiteit het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anoniem ·

Ons bid?en vertrou dat die Wêreld se regerings voorwaar ruim sal bydra vir hierdie GROOT KRISIS ??

Antjie ·

Vanaf DW se webblad:
The Save the Children charity said of the hard-hit coastal area in Mozambique: “Aerial assessments in Sofala province, in the center of the country, show that an area more than 50 kilometers wide has been completely submerged.”

Snowflake ·

Anoniem, moenie ver gaan soek nie, het jy n idee hvl behoeftiges hier onder jou neus is, maar ek sal jou inlig, wat ek werk by n instansie wat ook smag na bydrae, glo my, waar gesig gestrem, en verstandelik gestremdes is, weet jy hoe afhanklik is ons van bydraes? Ons is afhanklik van skoolfondse, maar slegs 20%ouers kan bydrae, wees so gaaf en ondersteun ons ook asb??

Attie. ·

Ons kla maklik oor baie redes wat ons maar mag oor kla soos tolhekke, plakkers, beurtkrag, ‘n regering wat beslis nie opgewasse vir sy taak is nie ens. Indien die sikloon Idai ons moes tref soos dit Mosambiek getref het sou ons rede gehad het om te kla. Kom ons gee die Here al die eer dat dit met ons baie goed gaan. Dankie Jesus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.