Een persoon is dood, talle dakke is afgewaai en swaar reën woed nadat sikloon Kenneth Mosambiek laat Donderdagaand getref het. Dit is die tweede sikloon wat dié Afrika-land binne ʼn kwessie van ses weke tref.
Volgens ʼn plaaslike noodoperasiesentrum in Mosambiek is ’n vrou in die stad Pemba dood nadat ’n boom op haar geval het, terwyl ’n groot aantal huise in die Macomia-distrik van die provinsie Cabo Delgado vernietig is.
Vier skepe het ook aan die kus van die dorp Palma gesink. Geen sterftes is tydens dié voorval aangemeld nie. Op die eiland Ibo is ongeveer 90% van die huise in die hoofdorpie in puin gelê, het die sentrum gesê.
Sikloon Kenneth is vandeesweek as ʼn kategorie 4‑sikloon geklassifiseer terwyl hy Mosambiek dreigend genader het met stormsterk winde van tot 220 km per uur, het ʼn sikloonwaarskuwingsentrum gesê.
Maroela Media het vroeër berig vrywilligers is vandeesweek op hoë gereedheid en het gemeenskappe voorberei vir dié storm wat na verwagting vandag sou tref.
Volgens die plaaslike regering is sowat 30 000 mense vooraf uit die gebied geneem. Byna 700 000 mense word deur sikloon Kenneth bedreig, het Mosambiek se rampbestuursagentskap gesê.
Daar word verwag dat dié sikloon dubbel die hoeveelheid reën vir Mosambiek sal inhou oor die volgende 10 dae as toe sikloon Idai dié land in Maart vanjaar getref het, het Herve Verhoosel, woordvoerder van die Wêreldvoedselprogram (WVP), gewaarsku.
Meer as 600 mense is dood en tienduisende verplaas nadat sikloon Idai vroeër vanjaar getref het. Volgens die Verenigde Nasies is dit die eerste keer in die geskiedenis dat ’n suidelike Afrika-land deur twee siklone in een seisoen getref word.
“Sikloon Kenneth vereis moontlik ’n nuwe groot humanitêre operasie in een van die wêreld se armste nasies, hoewel humanitêre bedrywighede na sikloon Idai vir maande lank nog sal moet voortduur,” het die VN se humanitêre hoof, Mark Lowcock, in ’n verklaring gesê.
“Die gesinne wie se lewens deur hierdie klimaatverwante rampe omvergewerp word, benodig dringend die vrygewigheid van die internasionale gemeenskap om oor die komende maande te oorleef,” het Lowcock gesê.
Nes met die vroeëre sikloon, kan duisende mense in die komende dae in gevaar wees soos die water styg. Voorspellers verwag dat die oorblyfsels van die storm vir dae nog oor die streek sal hang met reën wat swaar sal val.
Kragdrade is in sommige gemeenskappe vernietig en kragonderbrekings is in Pemba aangemeld, het Katie Wilkes, woordvoerder van die Internasionale Federasie van die Rooi Kruis- en Rooi Halfmaan-verenigings (IFRC) gesê. “Dit was selfs vir ons ’n uitdaging om duidelike kommunikasielyne te hê.”
Die storm het vroeër die Indiese Oseaan-eiland, Comore, getref. Ongeveer 1 000 huise is hiér vernietig.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
10 Kommentare
Dit moet die vreeslikste vreeslike vrees wees,wat mens beetpak, as jou huis, jou lewe ineenstort,met so natuurramp..wat ñ verskriklike tragedie ?
BAIE STERKTE aan almal geraak ons bid die weer kalmeer ??
Nie n sikloon daar in 143 jaar nie….en nou 2 in 5 weke!???
Dis iets vreesliks wat die mense moet beleef. Kom ons staan saam en bid vir die mense!!!
Hoekom is hulle so n arm land, dis die vraag wat gevra moet word. Nes die res van Afrika lande wat so gespook het om hulle vryheid en onafhanklikheid, is hulle nou telkens afhanklik van ander lande om hulle te gaan red en help.
Is dit nie tyd dat die mense besef God is in Beheer.Here hou U hande oor ons en beskerm ons Amen