Silwer vir ‘kind met goue hart’

Christine Mboma met haar silwer medalje wat sy tydens die Olimpiese Spele in Tokio verower het. (Ina Fassbender / AFP)

ʼn Blink atletiekloopbaan wink vir die 18-jarige Christine Mboma nadat sy ʼn silwer medalje vir Namibië in die 200 m-wedloop by die Olimpiese Spele in Tokio verower het. Dié jong vrou se heel grootste droom is egter om ʼn beter toekoms vir haarself en haar geliefdes te verseker.

Mboma het vandeesweek die heel eerste Namibiese vrou geword om ʼn silwer medalje by die Olimpiese Spele te wen. Die pad na die Spele was egter vol duwweltjies vir dié jong vrou wat op die ouderdom van 10 reeds ’n ma-figuur vir haar twee jonger sussies moes wees. Dit ná die skielike afsterwe van hul ma. Mboma het ook nooit haar pa geken nie.

Só vertel Henk Botha, Mboma se afrigter van die afgelope drie jaar.

Hy beskou Mboma en haar Namibiese spanmaat Beatrice Masilingi (wat sesde in dié wedloop geëindig het) as sy eie kinders. Hulle woon reeds sowat drie jaar by Botha, self ’n kranige sportman, en sy gesin op die dorp Grootfontein in die noorde van Namibië.

“Om bloot te sê dat dié meisies ’n moeilike kinderlewe agter die rug het, is nie ʼn voldoende beskrywing nie.

“Christine kom uit baie, baie moeilike omstandighede. Benewens haar jonger sussies het sy ook ’n ouma waarna sy moet omsien en die enigste oom wat iets kan bydra, is ’n vrugteplukker in die suide van Namibië.”

Christine Mboma saam met haar afrigter, Henk Botha, en spanmaat, Beatrice Masilingi, in Tokio. (Foto: Verskaf)

Botha sê Mboma en haar familielede het hulle lewe lank in ’n “baie klein huisie” gewoon, maar dat daar intussen vir hulle ’n groter huis gebou is.

Masilingi is deur haar ouma, wat Botha as ’n sterk en fenomenale vrou beskryf, in ’n klein sinkhuisie grootgemaak.

“Dis ’n groot voorreg om hierdie meisies te kan ken. Ons doen alles saam,” sê Botha.

Die atlete is vir die eerste keer deur Namibië se ministerie van jeug en sport aan Botha voorgestel en hy sê hy het uit die staanspoor geweet hulle het geweldig baie potensiaal.

Mboma se prestasie by die Olimpiese Spele het hom egter stomgelaat.

“Ons het hard gewerk en hier staan ons nou met ’n 18-jarige meisie wat tweede in die Olimpiese Spele is. Dit is ongelooflik en voel half onwerklik.”

Christine Mboma by haar afrigter, Henk Botha. (Foto: Verskaf)

Mboma het aanvanklik vir die 400 m, haar voorkeuritem, voorberei, maar is enkele weke voor die Spele verbied om daaraan deel te neem weens haar natuurlike hoë testosteroonvlakke. Mboma en Masilingi het vanjaar wêreldwyd drie van die vier vinnigste tye in die 400 m gehardloop, voordat hulle die nuus ontvang het dat hulle nie aan dié items by die Spele mag deelneem nie.

“Ons moes in minder as ’n maand ’n verandering maak. Ons het mekaar in die oë gekyk en gesê ‘ons het slegte nuus ontvang, maar ons weet wat ons doelwitte is en waarna ons werk’.

“Vandaar het ons net 100% op die 200 m begin fokus,” sê Botha.

Die atlete mik nou die Wêreldspele in Kenia. “Dit is om die draai en volgende jaar lê daar ook groot wedlope voor.”

Botha sê hulle oefen vyf keer ’n week en het Saterdae en Sondae af.

Hy sê dis egter baie belangrik dat die meisies altyd nederig bly en hulle atletiek geniet. Mboma en Masilingi is ook nog besig met die voltooiing van hul skoolloopbaan en is tans in gr. 11.

Beatrice Masilingi, Henk Botha en Christine Mboma in Tokio .(Foto: Verskaf)

Botha sê die grootste dryfveer agter albei meisies se sportprestasies is die strewe na ’n beter lewe.

“Hulle wil hul lewens verander. Dis die einddoel.

“Christine se grootste droom is om ’n goeie lewe vir haar geliefdes te vestig. Sy wil ook vir haarself en haar susters ’n goeie opvoeding kan gee en na haar ouma kan kyk. Dis vir haar belangrik dat hulle elke aand ’n bord kos het om te eet en in ’n warm bed kan gaan slaap.”

Hy beskryf Mboma as skugter, stil en pragtige kind.

“Sy het ’n ongelooflike sin vir humor. As jy haar eers leer ken, kan sy jou lekker laat lag en die snaaksste goedjies sê.

“Sy is ’n regterbreinkind – alles is deurmekaar en sy vergeet altyd iets,” lag Botha.

Hy sê Mboma is op haar eie manier “so uniek” en baie spesiaal vir hom.

“Soos ek nou praat, wil die trane uitkom. Sy is net ’n ongelooflike kind.”

Botha, Mboma en Masilingi is tans nog in Tokio en keer op 10 Augustus na Namibië terug.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Stephen

As trotse Namibier salueer ek julle Henk. Wel gedaan.

marius

Wonderlik!

johan

Dit bly steeds die waarheid dat daardie manlike vlakke van testosteroon haar(?) en ander soos sy bo “normale”vrounes in sport bevoordeel.

Frank

Ja nee, IOK sal hierdie testeroon meting storie gou moet uitklaar. Hulle kan nie hulle brood aan albei kante gebotter wil hê nie.
Caster is ‘n heel ander storie, kan nie vergelyk met hierdie twee se situasie nie.

Madeleine

Ongelooflike inspirasie Henk!!