Simone Biles onttrek aan nog items

Simone Biles (Foto: Loic VENANCE / AFP)

Die Amerikaanse gimnas Simone Biles het Saterdag aan nog twee items by die Olimpiese Spele onttrek. Twyfel bestaan nou of sy weer in Tokio gaan deelneem.

Die Amerikaanse swemmer Caeleb Dressel het intussen sy eie wêreldrekord gebreek en sy sesde Olimpiese goue medalje gewen, terwyl ’n Nigeriese naelloper op pad huis toe is nadat sy ’n dwelmtoets gedruip het.

Biles, wenner van vier goue Olimpiese medaljes, het vroeër vandeesweek weens geestesgesondheidskwessies aan die spankompetisie onttrek en nie aan die algehele kompetisie deelgeneem nie.

Gimnastiek VSA het Saterdag aangekondig dat Biles nog twee items gaan misloop.

“Na samesprekings met mediese personeel het Simone Biles besluit om haar aan die eindronde van die perd en asimmetriese brug te onttrek,” lui die verklaring.

“Sy sal steeds daagliks geëvalueer word om te bepaal of sy aan die eindronde van die vloeroefening en balanseerbalk gaan deelneem.”

Biles se landgenoot Dressel het hom intussen as die voorste manlike swemmer by vanjaar se Olimpiese Spele onderskei toe hy sy eie wêreldrekord verpletter het en sy derde goue medalje in die 100 m-vlinderslag gewen het.

Caeleb Dressel Saterdag tydens die 100 m-vlinderslag. (Foto: Oli SCARFF / AFP)

Die Amerikaner het ná 49.45 sekondes eerste aan die kant geraak en sy eie wêreldrekord van twee jaar gelede (49.50) verbeter.

Dressel kan moontlik nog twee goue medaljes verower nadat hy reeds die 100 m-vryslag en die 4×100 m-aflos saam met sy span gewen het.

Atletiek se integriteitseenheid (AIU) het Saterdag bekend gemaak dat die Nigeriese atleet Blessing Okagbare – wat Vrydag die 100 m-uitdun vir vroue gewen het – intussen positief getoets het vir menslike groeihormoon. Die toets is op 19 Julie op Okagbare uitgevoer.

Die 32-jarige het tydens die Olimpiese Spele in Beijing in 2008 ’n silwer medalje in die verspring verower. Sy is nou voorlopig geskors.

Blessing Okagbare (Foto: Giuseppe CACACE / AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

annie ·

Baie atlete moet maar tevrede wees met silwer en brons en dapper glimlag. Biles sal nie vir ewig haar fiksheidsvlak behou nie en dit moet aanvaar en met grasie bes gee ander word sy ‘n spektakel.

Mieke ·

Makliker om te sê as om te doen! Wanneer iets jou passie in die lewe is, gaan dit in elk geval nie oor eerste of tweede plekke nie! Niemand is ‘n spektakel nie – selfs wanneer jou beste vermoeëns nie meer kan bereik nie!!

KB ·

Miskien moet VSA Gimnastiek oorweeg om haar permanent te skors…sy’s nou ‘n verleentheid vir haar afrigter, span en land.

A ·

Hoe DURF hierdie meisie ‘n besluit neem sonder my toestemming!

As ‘n konserwatiewe persoon, dink ek sy moet tronk toe.

VaalDonkie ·

Haai foeitog. Ek het met ‘n af sleutelbeen gekwalifiseer vir die 1998 wereldkampioenskappe. Die gedagte om al die pad soontoe te gaan net om myself jammer te kry het nie eens in my kop opgekom nie. Ons is maar net anders gemaak daai jare lyk dit my.

Mieke ·

Psigiese versteurings werk baie anders… jou hele denke word hierdeur geaffekteer! Mense wat nog nie soiets meegemaak het nie, sal nie verstaan nie. As mens nie op alle vlakke kan funksioneer nie ( fisies én psigies) is jy net nie tot jou beste in staat nie.

JohanR ·

Ek voel soe jammer vir die meisie. Sy is in ‘n sport waar jy nerens kan weg kruip nie, en ek vermoed die probleem is nie liggaamlik nie maar in die kop. Maar ek haal my hoed af vir enigeiemand wat nie net gekies word vir die Olympics, maar self laaste kom – groot respek!

Sarel ·

Laat ons maar liewer nie oor annerland se atlete kommentaar lewer nie..
Ek hou van al die imoverende skuilname..

Niklaas ·

Toe haar eerste vertoning bra flou was, toe ontwikkel sy plotseling sielkundige probleme. Klink na swak verloorder. Soms moet mens maar tevrede wees met brons medalje ook. Goud is nie altyd te maklik om te verkry nie. Onse Chad het verloor met waardigheid.

Emile ·

Simone Biles mag dalk ‘n uitstekende gimnas wees maar sy het haar span lelik in die steek gelaat en is selfsugtig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.